Update
STILBAAI NUUS - Twee swemmers van Jongensfontein is Donderdag 21 November van gewisse verdrinking gered.
Volgens die nasionale NSRI-woordvoerder Craig Lambinon het omstanders teen 17:35 vermoed die man en vrou wat naby die Goukou- riviermond geswem het, in die moeilikheid is en het die NSRI geskakel. Die bemanning van stasie 31 wat met 'n vergadering in die basis besig was, het onmiddellik die paar te hulp gesnel.
Hulle het 'n 22-jarige vrou wat 'n bewustelose 27-jarige man in die water ondersteun, ongeveer 250m van die strand af aangetref.
'n Sterk gety (rip current) het hulle tot agter die branders meegesleur. Hulle is dadelik in die boot gelaai en vir verkluiming en nie-fatale verdrinkingsimptome behandel. Aan wal het paramedici die man gestabiliseer en hy het sy bewussyn herwin. Hy het 'n nag in die hospitaal deurgebring en is op 22 November ontslaan. Die vrou het nie hospitalisasie nodig gehad nie.
Volgens Lambinon loof hulle die vrou vir haar moedige optrede om haar vriend se lewe te help red.
Sy kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Vinnige optrede van Stilbaai NSRI red lewens
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'