Dit sluit in alle scenarios, soos onder meer vragmotors/bakkies met gevaarhoudende stowwe (Hazmat) soos plofstof, chemikaliëe en brandstof wat in botsings betrokke is, ernstige ongelukke, ook waar 'n persoon met die kake van die lewe bevry moet word en 'n voertuig wat brand waar insittendes vasgekeer is. Dit is nie noodwendig dat voertuie betrokke moet wees nie, maar enige ernstige gevalle waar nooddienste benodig word.
So 'n opleidingsessie het Maandag, 17 Maart by die Riverville stadion in Riversdal plaasgevind en was aangebied deur die Hessequa munisipaliteit en Eden Distriksmunisipaliteit. Die brandweer, verkeer, rampbestuur, EMS paramedikuste, plaaslike polisie en forensiese dienste was teenwoordig. In hierdie geval was 'n vragmotor (dit was met 'n ou motorwrak voorgestel) besig om te brand en die insittendes moes op die vinnigste - en veiligste, ook vir die nooddienspersoneel - uitgehaal en die brand geblus word.
Volgens mnr. Adneshell Voss, verkeershoof, is dit belangrik dat alle nooddienste mekaar moet aanvul en goed inmekaarskakel om effektief te wees. "Ons kan eerder met so 'n opleidingsessie 'n fout begaan as op 'n regte toneel, waar mense se lewens op die spel is," het hy beklemtoon en afgesluit met: "Ons doel is om die beste van die bestes te maak, vir ons gemeenskap. As elke hoof van elke departement of afdeling dit kan doen, kán ons net die beste word."
Instruksies word gegee.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'