HESSEQUA NUUS - Avbob se tweede Pad na Geletterdheid-veldtog waarmee hulle biblioteekwaentjies aan behoeftige skole skenk, is goed op dreef.
Maar skole wat graag só 'n biblioteekwaentjie wil bekom, sal moet spring voor die veldtog ten einde loop. Avbob pak dié veldtog aan saam met Oxford University Press, Suid-Afrika se voorste literêre uitgewer, wat 130 000 boeke geskenk het vir vanjaar se veldtog.
Die veldtog is daarop gemik om 'n leeskultuur onder leerders te vestig en om by te dra om die syfervaardigheid van laerskoolleerders regoor die land te verbeter.
Avbob gaan vanjaar 260 van dié biblioteekwaentjies, gevul met boeke, weggee. Dié boeke, wat al 11 amptelike landstale sal verteenwoordig, sluit onder andere boeke in oor syfervaardigheid en ander onderrighulpbronne, en sal vir verdienstelike laerskole en nie-winsgewende opvoedingsinstellings gaan.
In 2022 het Avbob 180 biblioteekwaentjies weggegee aan wenners, maar vanjaar het hulle dit met 80 na 260 biblioteke opgeskuif.
Dié biblioteekwaentjies is stewige strukture op wiele en word deur Avbob Industrieë in Bloemfontein vervaardig.
Verlede jaar is elke biblioteek met 430 boeke toegerus, maar in 2023 sal elkeen 500 boeke kry. Die waarde van elke biblioteek is R50 000.
Hoe kan 'n skool genomineer word?
Die publiek word aangemoedig om deel te neem deur nominasies elektronies in te stuur en te motiveer waarom 'n skool of opvoedkundige nie-winsgewende organisasie 'n biblioteekwaentjie met boeke behoort te wen.
Die nominasie moet ook aandui wat die skool of opvoedkundige nie-winsgewende organisasie se voorkeurtaal is sodat die wenners boeke in dié verkose taal kry.
Slegs opvoedkundige instansies wat fokus op leerders van gr. R - gr. 7 kwalifiseer.
Besoek: https://clickme1.zero-data.co.za/RTL_PR om jou begunstigde opvoedkundige instansie te nomineer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’