ALBERTINIA NUUS - Nina Mather (64), die groot dryfkrag agter die wêreld se grootste gebreide trui wat in 2014 in die Guinness Book of Records opgeteken is, is op 5 Maart aan natuurlike oorsake oorlede.
Haar droom om die grootste trui ter wêreld te brei is bewaarheid toe sy en 22 vroue binne 27 weke dié mylpaal behaal het.
Die "breitannies" was baie na aan haar hart en hulle het na die wêreldrekord 'n breigroepie, Bee Unique gestig waar hulle vir liefdadigheid gebrei het.
Na die brei van die trui en om haar besig te hou, het sy houtwerk aangepak en met Koi-visse geteel. Volgens haar dogter, Emsie Geldenhuys wou haar ma Albertinia "op die map sit" sodat toeriste die dorp kan besoek en sy het hierdie proejk met ywer aangepak.
Nina het 'n groot impak op baie mense se lewens wie se paaie gelukkig genoeg was om met hare te kruis, gehad. Haar hande was altyd besig en het vir niks verkeerd gestaan nie.
Alles waaraan sy geraak het, was 'n sukses. Sy het gehekel sonder patrone of planne soos niemand haar dit kon nadoen nie.
Nina en haar man, Stephen was vir 13 jaar in Albertinia woonagtig en het die laaste jaar by haar seuns, Stephen en Conrad gewoon en hul kleinkinders in Knysna opgepas.
Buiten haar man en dogter laat sy drie seuns, Conrad, Wynand en Stephen, drie skoondogters, Sonett, Geraldine en Carla, asook sewe kleinkinders agter.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'