Update
MELKHOUTFONTEIN NUUS - Melkhoutfontein het uiteindelik sy eie e-sentrum. Die splinternuwe fasiliteit met 'n hele aantal rekenaars is Maandag, 10 Augustus deur die Wes-Kaapse premier, Alan Winde en die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles geopen.
Die projek vorm deel van die provinsiale regering se Cape Access-program, wat reeds 74 sulke sentrums deur die Wes-Kaap opgerig het om plattelandse en afgeleë gemeenskappe toegang tot tegnologie te gee.
Die verrigtinge in 'n keurig versierde gemeenskapsaal is deur raadslid Margaret Jakobs geopen, waarna Riddles die premier aan die woord gestel het.
In sy toespraak het Winde benadruk dat so 'n sentrum net kan werk indien die gemeenskap die geleenthede wat dit bied, met albei hande aangryp en die meeste daarvan maak.
"Met die druk van 'n knoppie het Melkhoutfontein in verbinding met Londen, Shanghai, Delhi en enige plek waaraan jy kan dink, gekom. Dis nou binne Melkhoutfonteiners se bereik om 'n verskil in hul eie en ander se lewens te maak."
Met betrekking tot die provinsiale regering se hantering van die Covid-19 pandemie het Winde gesê hulle het die afgelope paar maande meer reggekry as wat hulle ooit vantevore gedroom het. "Ons het drie hospitale in vier weke gebou, waarvan een die grootste Covid-hospitaal in Afrika is. Ons lewer medisyne by 280 000 kwesbare mense se huise af, sodat hulle nie in rye hoef te staan nie. Hierdie innovasies het nie uit die ministers gekom nie; dis die mense wat met die stelsels werk wat behoeftes raakgesien en planne in werking gestel het. Dís die soort ontwikkeling wat 'n sentrum soos hierdie wil stimuleer."
Hilton Arendse van Cape Access het gesê die volle impak van die sentrum gaan oor nageslagte heen beleef word. "Dis nie net vir ouer mense, of net vir kinders nie. Dis vir enigeen wat 'n beter lewe vir homself en almal naby hom begeer."
Uitvoerende burgemeester Grant Riddles en premier Alan Winde na die onthulling van die gedenkplaat. Foto's: Deona Aucamp
Die e-sentrum se gedenkplaat van nader.
Vorige artikel: Melkhoutfontein kry e-sentrum
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'