STILBAAI NUUS - Klein ondernemings landwyd is besonder hard deur die koronaviruspandemie getref en nie almal kon toegang tot die hulppakkette wat deur die openbare en privaatsektor beskikbaar gestel is, kry nie.
Vir Stilbaai Sakekamer is die voortbestaan van dié kategorie besighede besonder belangrik en hulle het besluit om die moontlikheid vir 'n hulpfonds te ondersoek.
Voorsitter Rachel Wall sê hulle wil deur die inisiatief 'n fasiliterende rol vir sulke eienaars vul, om hulle in staat te stel om aanvanklike bedryfskoste te verkry en om hulle besighede te hervat na die inperkings verslap is.
Lede sowel as nie-lede van die sakekamer sal gehelp word, hoewel hulp aan nie-lede onderhewig is aan aansluiting, met die vergunning van drie maande uitstel vir betaling van ledegeld.
Enigiemand wat bereid sou wees om by te dra tot so 'n fonds, word uitgenooi om met Wall in aanraking te kom. Stuur 'n epos aan rachelw@absamail.co.za en meld ook die bedrag wat oorweeg word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'