Gallery Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die Riversdal-landbouskou wat van 20 tot 23 Februarie plaasgevind het, het iets vir ’n ieder en ’n elk gebied.
’n Heerlike gesellige atmosfeer het geheers, van die amptelike opening tydens die Groetmekaar-aand tot die finale item in die perde-arena. Suid-Kaap Forum was weer vanjaar die mediaborg.
Pedro Kruger het vroue Donderdag tydens die damesontbyt toegespreek en met sy klavierspel vermaak. Vir die eerste keer het inwoners van DROOM ’n gratis ontbyt op die skouterrein geniet. Nie eens ’n rolstoel of kruk kon dié bejaardes keer nie.
Nicola Weimar, hoof-ekonoom van Nedbank, het Saterdagoggend tydens die manne-ontbyt Suid-Afrika se ekonomie bespreek.
Die massa-aflos het vir ’n groot opkoms gesorg en die paviljoen was stampvol. Ienkel Dienkel het die pre-primêre aflos gewen en Voorwaarts Primêre skool het die o.7 tot o.9 meisies en o.10 tot o.13 meisies en -seuns gewen. Panorama Primêre skool het die junior seuns aflos gewen.
Hoër Landbouskool Oakdale het die hoërskole seuns aflos gewen en Hoërskool Langenhoven het die meisies hoërskole aflos gewen.
Die Steakhouse was weer ’n treffer met heerlike vleissnitte. Vermaak was buite die Steakhouse in ’n tent en musiek is eers later harder gestel sodat almal kon skoffel en dié wat in rus en vrede wou eet, eers hul biefstuk kon geniet.
Altesaam 112 leerders vanoor die Wes-Kaap het vir die Jeugskou ingeskryf. Hulle het deelgeneem in die kategorieë junior-junior, junior en senior in die afdelings vleisbeeste, suiwelbeeste, Angoras en skape, asook kulinêre kuns en suiwelbereiding.
Die Suid-Kaap Merino-streekskompetisie het Donderdag 21 Februarie plaasgevind. “Veegetalle het weens die droogte afgeneem en daarom is vanjaar ook vir die eerste keer boerbokke vertoon,” het Hennie Geldenhuys, die organiseerder, gesê.
Die slaglamkompetisie het deel gevorm van die skaapvertoning. “Die kompetisie help skaapboere om te bepaal of hulle op die regte pad is met teling, want ons soek die ideale lam vir die huisvrou.”
Jaco van Rensburg is vanjaar se kampioen met drie toekennings, naamlik kampioen enkel op die hoef, kampioen aan die haak en groep kampioen op die hoef.
Die kampioenlam van 24,3 kg - A2 se bod is op R10 000 toegestaan. Altesaam R22 300 is ingesamel. Die opbrengs van die veiling word aan Huis Wallace Anderson geskenk.
Kyk 'n video hieronder
Sewe vleis- en dubbeldoelbeesrasse is ten toon gestel. “Dit is die grootste verskeidenheid in vier jaar,” het Fanus Muller, die organiseerder, gesê. Vanjaar is Charolais, Herefords, Simentalers, Limousins, Chianinas, Dexters, Rooipoenskoppe en Senepol-beeste vertoon. Verskeie van Philip de Waal van Locheim Stoetery by Moorreesburg se Bruin Angus- en Herefordstoet het weggestap met gesogte titels.
Altesaam 17 vertoners het 300 stuks pluimvee en duiwe uitgestal. “Die uitstalling vind onder die vaandel van die SA Show Poultry Organisation (SASPO) plaas,” het John Cronje gesê. “Ons teel en skou hoenders omdat ons nie wil hê die rasse moet uitsterf nie. Hoenders is ’n gewilde stokperdjie, ook onder kinders.” Daar is ook hoender- en makou-eiers uitgestal en van die pluimvee is te koop aangebied.
Die jaarlikse boerboelskou het groot belangstelling ontlok. Slegs geregistreerde boerboele is vertoon en daar was 82 inskrywings. “Met die jaarlikse skou wil ons die ras bekendstel, maar ook verbeter,” het Natasha Fourie van Laika Boerboele gesê. Busby Adam van die eienaar Lloyd de Villiers van Busby Boerboels in Kaapstad het die eerste plek verower.
Die Suid-Kaap Saalperd-streekskou, Wes-Kaap SA Boerperd-streekskou en miniatuurperdskou het gesorg vir groot opwinding. Die aksie in die hoofarena het Woensdag begin met die SA Boerperd-kampioenskap, gevolg deur skouspring. Die program het Saterdag 23 Februarie van 14:00 tot 19:00 ’n hoogtepunt bereik met die finale rondte toe Junior Hugo met Supreme Contest die toekenning as Groot Kampioen Vyfgang ontvang het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'