STILBAAI NUUS - Studente van die Veldgidsvereniging van Suid-Afrika, (FGASA) onder leiding van Louis Willemse, ervare nasionale gids en geakkrediteerde opleier, het Stilbaai op 24 en 25 Mei besoek as deel van hul oorlandkursus wat in Franschhoek begin het.
Dit het deur Agulhas en Struisbaai gestrek en het ook Mosselbaai en Oudtshoorn ingesluit voordat hulle in Haarwegskloof in die Renosterveld geëindig het.
Vir die oorlandkursus is die studente self verantwoordelik vir die reisplan terwyl hulle ook al die besprekings en finansies hanteer en die toer se spyskaart beplan, kosaankope doen en bestuur. Die oorlandtoer is 'n bykomende toevoeging tot hul toergidskursus se leerplan en hulle skryf ook eksamen daaroor.
Volgens Willemse dra dit daartoe by dat toergidse uiteindelik universeel aanpasbaar is en bereidwillig moet wees om enigiets aan te pak indien hulle nie as 'n gids in diens geneem word nie.
In Stilbaai het die studente onder andere die visvywers besoek asook die argeologiese museum by Stilbaai-toerisme waar hulle 'n inligtingsessie oor die varswaterpalings ontvang het en 'n opname van die inheemse bome gemaak het.
By die NSRI Stasie 31 is hulle met die boot uitgevat en is hulle deur die stasiebevelvoerder, Arrie Combrinck, toegespreek oor die werksaamhede en die belangrikheid van die NSRI. Hulle het twee aande in die Jongensfontein-karavaanpark gekamp.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'