SUID-KAAP NUUS - Die brande wat meer as 90 000 ha berggrond vernietig het, was grotendeels tot die Outeniquaberge beperk.
Gebiede wat deurgeloop het, behoort hoofsaaklik aan die staat, naamlik die departement van landbou, seevisserye en bosbou (DAFF), waarvan 'n groot deel deur MTO (Mountain To Ocean) se plantasies beslaan word.
Die MTO-plantasies wat tussen Riversdal en Tsitsikamma in die slag gebly het, sluit Homtini, Garcia, Buffelsnek, Bergplaas, Jonkersberg, Witelsbos en Lottering in. Heelwat denneplantasies, waarvan die hout vir bouwerk en heiningpale gebruik word, het in die slag gebly.
"MTO is nog besig om die omvang van die skade vas te stel wat deur die onlangse brande veroorsaak is, en dit is nog nie seker hoeveel hektaar plantasies in die slag gebly het nie," sê Tashne Singh, woordvoerder. "MTO is nog besig om vas te stel hoeveel hektaar vernietig is voor ons kan voorspel watter tekorte ervaar gaan word."
As gevolg van die brande gaan daar vanselfsprekend minder bome vir verwerking beskikbaar wees. "Op die oomblik is kontrakteurs besig om bome te oes, maar die omvang van die uitwerking op die bosbou- en boubedryf sal eers mettertyd bepaal word."
MTO is besig om vas te stel watter plantasies die ergste skade gely het en watter eerste geoes moet word. Dit is egter nog nie seker hoeveel plantasies gebrand het en wat die skade in rand en sent gaan beloop nie. "Nie al die bome kan geoes word nie, want sommige is nog te jonk en klein (jonger as 10 jaar oud) om geoes te word, terwyl ander te erg deur die brand beskadig is."
Nadat die bome wat gebrand het geoes is, sal die grond voorberei word vir nuwe saailinge. "Ons het reeds saailinge bestel om te herplant in gebiede waar ons langtermyn kontrakte het. Dit sal lank vat voor die hange van die Outeniquaberge weer lowergroen is," sê Singh. "Bome moet eers 10 tot 15 jaar oud wees voor dit die landskap verander; hulle word eers geoes wanneer hulle sowat 25 jaar oud is."
Van die kontrakte kom in 2020 tot 'n einde.
"Omdat MTO 'n verantwoordelike maatskappy is, sal ons seker maak die gebiede wat ons verlaat is skoon van uitheemse plantegroei en gerehabiliteer soos in ons ooreenkoms met DAFF."
Hoeveel voëls en wild soos bosbokke en bosvarke oor is, kon nog nie bepaal word nie. "Omdat die vuur oor so 'n groot gebied versprei het, moet 'n mens aanvaar dat wildlewe in die slag gebly het.
Maar gelukkig bly daar altyd stukkies bos oor in klowe of langs riviere en hopelik kon van die diere betyds daarheen vlug sodat hulle mettertyd weer kan aanwas."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'