RIVERSDAL NUUS - Die afsterwe van Tobie Jackson op 2 Julie, afgetrede sakeman van dié dorp is die einde van 'n era vir die plaaslike motorhandel.
Jackson is op 14 Maart 1925 op Albertinia gebore. Na sy skoolloopbaan sluit hy by die Lugmag as elektrisiën aan. In 1957 koop hy eiendom by Emile Hertz in Hoofstraat en bou saam met sy vennote 'n nuwe vertoonlokaal vir Volkswagen-voertuie.
Die planne word opgetrek deur 'n argitek in Duitsland. Op 2 Mei 1958 word die besigheid amptelik geopen en in 1978 begin hy ook 'n onderdelewinkel in Dicksonstraat saam met 'n vennoot.
In 1980 word hy alleen-eienaar en was wyle Danie Pearce, saam met James Meiring sy assistent. Die koms van televisie bring 'n goeie kontantvloei vir die besigheid.
Aangesien die meeste huishoudings in Aloeridge en Môrestond oor geen elektrisiteit beskik het nie, word motorbatterye by sy onderneming vir slegs R2 herlaai. Dit was 'n bekende gesig om jong seuns oor die Hoofweg te sien loop met houtkarretjies waarin 'n battery perfek gepas het.
In 1997 verkoop hy sy onderdelewinkel en tree uit die sakewêreld. Hy word oorleef deur sy vrou, 'n seun en kleinkind. (Keith Eksteen, korrespondent).
ARTIKEL: KEITH EKSTEEN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'