STILBAAI NUUS - Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap se motorfietstak het Saterdag 22 April van heinde en ver op Stilbaai toegesak.
Motorfietsryers het van so ver as Bre-dasdorp, Witsand, Mosselbaai en George die reën getrotseer om sanitêre- en toiletware vir behoeftige dogters en seuns af te lewer as deel van die #HelpHetta en #HelpJannie-projek van Helpende Hand.
Die verskillende takke het by die Stilbaai-bootjie by die N2-afdraai bymekaargekom en as 'n groep gery tot by die Brugmark in Stilbaai. Die brullende motorfietse het vir heelwat opwinding gesorg en natuurlik het almal van hulle pannekoek en koffie gesoek in die koue nat weer.
Raadslid Tinus van den Berg, onder-burgemeester van Hessequa-munisipaliteit en sy vrou, Elmich, het ook 'n gedeelte van die roete saamgery. Hy sê dat hy nie kan sien dat enigiemand van die gemeenskap nie kan betrokke raak by sulke inisiatiewe nie.
Volgens hom is die ekonomie in die land tans baie swak en is daar mense wat in groot nood is, terwyl daar mense is wat kan gee. Dit is waarom 'n organisasie soos Helpende Hand 'n groot rol speel.
Corrie van der Westhuizen, president van die Helpende Hand Wes-Kaap Motorfietstak, met van die sakkies wat die dowe en blinde tannie van Worcester gehekel het vir die meisies se sanitêre ware.
Van den Berg het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor Helpende Hand vir die werk wat hulle doen, hulle besoek en die bydraes wat die motorfietsryers kom aflaai het.
Corrie van der Westhuizen, president van die Wes-Kaap-motorfietstak, sê dat die motorfietstak se lede almal deel is van Helpende Hand en hulle doel is om 'n verskil in die gemeenskap te maak. Hulle pak jaarliks projekte soos hierdie aan op versoek van die streekorganiseerder, in hierdie geval Marlise Labuschagne van Mosselbaai.
Volgens Corrie het "bikers" omgeeharte en dit is hoekom hulle hierdie projekte steun en waarom meer as dertig motorfietsryers die triestige weer getrotseer het om hulle bydraes af te lewer. Alhoewel hierdie projek spesifiek vir tieners is, is daar ook projekte vir bejaardes en dan algemene projekte soos byvoorbeeld warm truie en baadjies vir behoeftiges.
Marlise Labuschagne noem dat toe die behoeftebepaling vir hierdie projek gedoen is, het hulle gevind dat daar ongeveer 3 000 meisies in 107 skole is wat tans sanitêre ware van Helpende Hand af kry. Dit is meisies wat vyf dae van die maand nie skool toe gaan nie, bloot omdat hulle nie die sanitêre ware kan bekostig nie.
Corrie van der Westhuizen, president van die Helpende Hand Wes-Kaap Motorfietstak, en sy vrou kom by die Brugmark in Stilbaai aan.
Corrie het ook spesiale vermelding gemaak van die blinde en dowe tannie in Worcester wat 50 sakkies gehekel het vir die sanitêre ware en dit aan Helpende Hand geskenk het om te versprei. Dit is beslis die kersie op die koek van Helpende Hand se omgeeprojekte.
Thinus van den Berg, onderbur-gemeester van Hessequa-munisipaliteit, en sy vrou Elmich by die Brugmark in Stilbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’