HEIDELBERG NUUS - Die Goliath Davids/Hessequa-toneelfees wat vir die tweede agtereenvolgende jaar aangebied word, het Maandag 2 Oktober 'n aanvang geneem en duur tot Saterdag 7 Oktober in die Duivenhoks-gemeenskapsaal.
Volgens Lloyd Davids, seun van wyle Goliath Davids, bekende akteur en dramaturg, asook stigter van die Goliath Davids Legacy Project, is daar reeds 20 groepe, waaronder nege laerskole, agt hoërskole en drie buitemuurse dramagroepe wat ingeskryf het.
Skole van sover as Namakwaland, De Doorns, Atlantis, Kaapstad en Ladismith het ingeskryf.
Davids is van mening dat dié aanbieding van die fees verlede jaar s'n sal oortref.
"Inskrywings is reeds twee keer meer as verlede jaar en strawwe mededinging word op die verhoog verwag."
Van die laerskole wat ingeskryf het, sluit in De Waalville, Slangrivier, Panorama, Voorwaarts, Bontebok, asook laerskole van sover as Worcester.
Onder die senior sekondêre skole is Swellendam, Robinvale, Hexvallei, Klein Nederburg, Worcester, Schoonspruit, Bergrivier en Ladismith.
Deskundiges sal tydens die groepe se repetisietye met die slypwerk van hul produksies help.
Die verrigtinge begin daagliks om 10:00 en saans om 17:00. Die hoogtepunt van die week sal Saterdagmiddag wees wanneer die Finalé, waar die plaaslike Goliath Davids Legacy Project se kunste-akademie hul gesogte produksie, Skaakmat#ekiskhoi waarvoor hulle onlangs vier goue toekennings opgeraap het, sal opvoer, asook die prysuitdeling.
Wenners sal in 11 verskeie kategorieë aangewys word: Beste regisseur, naasbeste regisseur, beste en naasbeste akteur en aktrise, beste en naasbeste produksie, beste byspeler, beste byspeelster asook beste tegniese versorging.
Davids is vol vertroue dat toneelgangers waarde vir hul geld sal kry met produksies soos Joanie Galant-hulle deur De Doorns Worcester-dramagroep, 'n Myl in my Skoene deur Swellendam, Kerria Primêr van Atlantis se Geketting' asook verlede jaar se wenner vir hoërskole, Robinvale, se Die Swerfjare van Poppie Nongena.'
Lees 'n vorige artikel: Maak reg vir toneelfees
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'