Update
GOURITSMOND NUUS - 'n Verdere ondersoek na die voorkoms van vleilande op die terrein waar 'n ontwikkelaar 'n perlemoenfabriek wil oprig, behoort gedoen te word.
Dit was die slotsom waartoe Denis Joseph, die DA se provinsiale parlementslid vir Hessequa, tydens 'n vergadering op 17 April met belanghebbendes gekom het.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het pas gelas dat die moontlike voorkoms van vleilande in die gebied waar die maatskappy Aqunion 'n perlemoenfabriek beoog, ondersoek moet word.
Aqunion het voorlopige goedkeuring van die departement verkry om met die ontwikkeling voort te gaan. Die fabriek word op 'n terrein sowat 10 km vanaf Gouritsmond en naasliggend aan die Gourikwa-natuurreservaat beplan.
'n Tiental appelle teen die voorwaardelike omgewingsgoedkeuring van die ontwikkeling is ontvang en oorweeg. "Ons is nie gekant teen ontwikkeling nie, maar enige ontwikkeling wat ons natuurlike bates of die karakter van ons dorp en omgewing kan skade berokken, sal ons ten sterkste teenstaan," het Org Nieuwoudt, voorsitter van die Gourits-sambreelligaam, wat die vergadering gereël het, gesê.
Joseph het die vergadering aangevra ten einde hom te vergewis van inwoners se mening oor die fabriek. "Aan die een kant kan dit werksgeleenthede skep, maar dit gaan nie onmiddellik gebeur nie. Aan die ander kant moet enige ontwikkeling omgewingsvriendelik wees. Daar moet 'n balans tussen die verskillende belangegroepe se behoeftes wees." Joseph het benadruk dat hy nie kant kies nie en aan sy kollegas by die departement sal terugvoer gee.
Volgens Frik Mouton van Aqunion het Bredell op 29 April vanjaar versoek dat 'n vleilandstudie op die terrein gedoen moet word. "Die minister het nie versoek dat 'n 'volledige omgewingsimpakstudie' gedoen word nie, maar slegs 'n aanvulling tot die 'Basic Assessment'. Die minister se versoek is gerig weens die aard van die appèlle en die gepaardgaande amptelike proses," sê hy. "En dit is nie 'n perlemoenfabriek nie, maar perlemoenplaas."
Lees 'n vorige artikel hier: Minister las ondersoek
'Ons bring jou die nuutste Gouritsmond, Hessequa nuus'