RIVERSDAL NUUS - "Meneer, was jy al ooit honger?" vra sy my met smekende oë. "Rêrig honger?"
Aan die woord is die 55-jarige Rebecca Johnson van Kwanokuthula, terwyl sy haar vingers ineenstrengel en die trane vlak in haar oë lê.
Dan wys sy na die twee verweerde kookpotte op die gasstofie. Dié is dolleeg. Die gaskan ook.
"Meneer, die mense is honger, maar ek moet hulle wegwys. My koskas is leeg. Wat moet ek maak?" smeekvra sy my.
Haar groot droom om hongersnood in Kwanokuthula met durf en daad aan te pak, is op Vrydag 31 Maart vanjaar bewaarheid toe sy Becca's Soup Kitchen se deure kon oopmaak.
Uit die piepklein kombuis met karige komsbuisgereedskap en 'n paar gewillige helpers was die plan om drie maal 'n week, op Maandae, Woensdae en Vrydae, 'n bord voedsame kos vir tussen 60 en 80 mense voor te berei.
Hoofsaaklik vir jong kinders en bejaardes. Die kwesbaarste onder die kwesbare in die gemeenskap. Alles het mooi in plek geval vir dié engel met 'n hart van goud om haar droom na te streef.
Ná 'n inspeksie en goedkeuring deur die gesondheidsdepartement, en met die ruim ondersteuning van Kindersorg Riversdal, kon Rebecca en haar helpers met hul maaltye begin. Haar sopkombuis is intussen ook as 'n nie-winsgewende organisasie geregistreer.
Vir bykans twee maande het alles klopdisselboom geloop en kon sy in die steeds groeiende behoeftes van die hongeres voorsien. Maar soos die woord letterlik soos 'n veldbrand versprei het, het die lys van behoeftiges al langer en langer geword, vertel Rebecca.
"Toe ek weer my oë uitvee, het ons weekliks meer as 300 honger mense begin voed. Dit het ons kosvoorraad getap en ekstra geld was daar nie. So hier en daar moes ek van my eie geld ingooi om genoeg kos te kon voorberei.
"Wat maak mens as 'n kleintjie met sy leë bord voor jou kom staan en bedel vir kos en jy het niks. Nie eens 'n snytjie brood nie. En jy weet voor jou siel daai kind het drie dae laas kos in sy maag gekry."
Toe ontvang sy die skoknuus dat welsyn se begroting uitgeput is en dat hulle nie meer kan help nie. "Meneer, my hele wêreld het inmekaar getuimel. My hartswens om die groot honger net in my woonbuurt in Kwanokuthula weekliks te probeer verlig, is net daar gesmoor."
Met Suid-Kaap Forum se besoek verlede Donderdag rondom die middaguur het daar 'n paar oumensies buite rondgestaan met hul borde in afwagting op iets te ete uit Becca's Soup Kitchen. Die afwagtende, vraende blik in hul honger oë het boekdele gespreek.
"Maar meneer Hugo kan self sien. Hier is niks. Nie 'n krieseltjie brood nie. Geen gas nie. Geen niks nie."
Beroep aan die gemeenskap
Suid-Kaap Forum wil ‘n beroep op inwoners doen om Rebecca te help om die sopkombuis weer aan die gang te kry. Sy soek nie geld nie. Net kos. Blikkieskos. Oorskietkos. Veral nou met winter op hande, sal bestanddele wat gebruik kan word om voedsame sop, soos groentesop, voor te berei, baie help om honger mae te vul. Bone, ertjies, gars of enige sopmengsels.
Die weldoener Anton Swart, eienaar van JC Slagtery, gee op Maandae 5 kg-sopbene vir Rebecca, maar sy sal dit moet aanvul met groente.
Mense wat graag ‘n bydrae wil maak, kan dit by die kantoor van Suid-Kaap Forum in Heidelbergweg kom aflewer by die redakteur, Hugo Redelinghuys, wat dit aan Rebecca sal besorg. Elke bietjie sal help, al is dit net ‘n halwe brood of een blikkie mielies, ‘n bossie wortels of ‘n kopkool.
Ou komberse en enige ou klere is ook baie welkom. En daai ou potte en panne wat iewers in ‘n motorhuis of stoor stof opgaar, kan handig te pas kom.
Komaan Riversdal, doen dit vir ‘n goeie doel. Maak oop jul hande en harte en help Rebecca om die kwesbare mense in ons gemeenskap te ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’