Update
STILBAAI NUUS - Dit was 'n droom wat waar geword het vir Hans Mooren van Amsterdam, Nederland toe hy Maandag, 18 April sy fotoboek met sielvolle foto's van families van Melkhoutfontein in en om hul huise kon tentoonstel.
Mooren, 'n ywerige fotograaf en sy vrou, Coby besoek Melkhoutfontein sedert 1992 en beskryf die dorpie as hulle tweede tuiste.
Hulle het deur middel van hulle kontakte met Anthea Rossouw, stigter van die nie-winsgewende organisasie Dreamcatcher South Africa, in Melkhoutfontein kom kuier.
Hulle het op dié pragtige dorpie en sy mense buite Stilbaai verlief geraak en spandeer jaarliks tot twee weke hier.
Mooren, wat gedurig loop en foto's neem het op die gedagte gekom om spesifiek foto's van Melkhoutfontein se families te neem.
Hy het aanvanklik nogal teenstand gekry omdat mense nie sommer hul huis en hart vir vreemdelinge oopmaak nie, maar hy het uiteindelik inwoners se vertroue gewen en meer as 200 foto's met hierdie projek geneem.
Om die foto's in 'n boek saam te vat, was sonder enige borge nogal 'n duur projek, maar Mooren het deurgedruk en hy sou reeds 'n paar jaar gelede terugkom na Suid-Afrika om die fototentoonstelling te open.
Covid-19 het egter veroorsaak dat hy eers vanjaar sy droom kon verwesentlik.
Afskrifte van al die foto's is gemaak en in stringe rondom die Melkhoutfontein-gemeenskapsaal gehang.
Gaste het binne byeengekom en Mooren het die tentoonstelling amptelik geopen, waar hy gesê het dat hy dit gedoen het om erkenning te gee aan die plaaslike inwoners.
Rossouw het van die geleentheid gebruik gemaak om hom te bedank vir wat hy oor die jare vir Dreamcatcher South Africa, maar ook spesifiek vir Melkhoutfontein en sy mense beteken het.
Sy werk reeds vir die afgelope 31 jaar onverpoosd om Melkhoutfontein as 'n moet-sien toerismebestemming te bemark, nie net vir buitelanders nie, maar ook vir die plaaslike toeriste.Elmordine Saayman by voorbeelde van tuisgemaakte produkte uit afvalmateriaal.
Raadslid Renee Davids het namens die burgemeester van Hessequa-munisipaliteit vir die Moorens bedank vir die pragtige fotoboek en die eksemplaar wat hy aan Melkhoutfontein-biblioteek geskenk het.
Dreamcatcher het 'n paar jaar gelede begin om in samewerking met die Brighton Universiteit van Brittanje mense op te lei om handwerkprojekte uit herwinbare vullis te vervaardig en te verkoop.
Elmordine Saayman, handwerkkoördineerder, het tydens die geleentheid ook van hierdie produkte uitgestal en meer oor die projek vertel.
Dreamcatcher het 'n groep vrywilligers in noodhulp opgelei omdat hulle besef het dat die gemeenskap 'n probleem met mediese noodgevalle het buite die normale werksure van die kliniek.
Hierdie diens is nie slegs vir die gemeenskap nie, maar ook vir toeriste as hulle in Melkhoutfontein 'n besering sou opdoen.
Vorige artikel: Fotoboek oor Melkies sien die lig
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'