STILBAAI NUUS - Stilbaai SAPD onder leiding van die Sosiale Misdaad koördineerder, sers Christiana Lewaks, het einde Augustus Melkhoutfontein se vroue bederf met 'n swierige geleentheid in die gemeenskapsaal ter afsluiting van vrouemaand.
Lewaks het die vroue ingelig oor 11 soorte gesinsgeweld en die doel van ‘n beskermingsbevel verduidelik.
Burgemeester Grant Riddles, asook die Stilbaai-sakekamer se voorsitter, Rachel Wall, het die geleentheid bygewoon en die vroue toegespreek.
Die gasspreker, Berenice Kogana-Paulse van Mosselbaai-munisipaliteit, het geweld teen vroue en kinders ernstig aangespreek. Sy het vroue herinner dat as jy weet wie jy is, geen vrou ooit mishandeling sal toelaat nie.
Daar was ook vertonings deur trompoppies en 'n drilpeloton.
Talle besighede het die geleentheid ondersteun met ‘n "Business against Abuse against Woman and Children" boodskap. Besighede het ‘n driegang maaltyd, versnapperinge en verskeie geskenke geborg.
Die eienaar van Envy Boutique het uitrustings vir ses dogtertjies vir 'n modeparade geborg en Die Kothuis het die meisies met geskenkies bederf.
Die Stilbaai-polisie en sakekamer bedank al die besighede vir hul ruim bydraes.
Trompoppies het die gehoor met hulle passies beindruk.
Hessequa Burgemeester Grant Riddles luister aandagtig na gasspreker, Berenice Kogana-Paulse van Mosselbaai-munisipaliteit.
Sers Lewaks en kol. Pietersen van Da Gamaskop saam met die drilpeloton.
Die meisies het hulle stemme dik gemaak teen gesinsgeweld.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'