HESSEQUA NUUS - Matrikulante was die afgelope tyd baie skepties oor hulle eindeksamen soos berig die afgelope twee weke.
Suid-Kaap Forum se vraag aan die leerders vir hierdie week was, of hulle dink daar word genoeg tyd gegee om hulle vraestelle te voltooi.
Met uitsondering van 'n paar, het die meeste gesê dat daar beslis genoeg tyd verskaf word.
Hoewel hulle steeds hard besig is met voorbereiding vir die res van die eksamen, is die gevoel onder matrieks baie meer ontspanne.
Hägen Reinstorf: "Daar was definitief genoeg tyd gegee om my fisiese wetenskap vraestel te voltooi. Ek het 30 minute voor die tyd klaargemaak, dus het ek genoeg tyd gehad om my vraestel deur te gaan. Dit was een van die makliker vraestelle wat ek al geskryf het, maar ek dink ons standaard by die skool is hoog. Vraag 8 en 9 het ek bietjie vasgehaak, maar die res was heel billik."
Gas-Leigh Fillies: "Daar was genoeg tyd om my fisiese wetenskap vraestel 1 te voltooi, want ek het my tyd goed bestee en myself by die huis geleer om dit te doen. Ek het baie lekker geskryf en dit was 'n billike vraestel. Een of twee kopkrappers, maar ek het my beste gegee."
Hendrik Rossouw: "Daar was genoeg tyd vir my fisiese wetenskap vraestel. Ek het 'n uur oorgehad om net te wag."
Maurio Phillips: "Ek het gemaklik my vraestel voltooi want die langvrae het ek binne 'n uur en 15 minute klaargemaak. Ek het my tydsberekening beplan en daarvolgens gewerk. Dit was vir my 'n baie groot voorreg om die laaste vraestel van geskiedenis te voltooi, spesifiek die langvrae. Dit was van uiterste belang vir my en ek het dit baie geniet, veral die vraag oor die demokrasie van Suid-Afrika. Ons onderwyser het ons goed voorberei met al die inligting wat ons nodig gehad het, ons moes dit net leer. Wanneer jy die vraag reg lees, verstaan jy beter en kan jy met goeie vermoë antwoord."
Ronel van der Bergh: "Ek het genoeg tyd gehad vir vandag se fisiese wetenskap vraestel. Dit het eintlik vinniger verbygegaan as wat ek gedink het, want ek het vroeër klaargekry as gewoonlik. Ek het ongeveer twee ure en 15 minute geskryf, so daar was nog 45 minute oor voor ons eintlik moes klaarmaak."
Jolin Pietersen: "Fisiese wetenskap vraestel 2 was soos verwagting, baie moeilik. Vanaf die eerste vraag tot die laaste vraag. Alhoewel ek so hard geleer het, kon ek nie betyds klaarmaak nie."
Angelique Garlick: "Die drie ure vir geskiedenis vraestel 2 was volgens my meer as genoeg omdat ons net drie vrae moes beantwoord. Ek het een uur nodig gehad vir elke vraag en het 'n halfuur oorgehad toe ek klaar was met al die vrae."
Jewel Meyer: "Wêreldge-skiedenis is baie interessant, ek het dit baie geniet. Ek het oorgenoeg tyd gehad vir beide vraestelle. Vir my was die kortvrae van geskiedenis vraestel 1 betreklik moeilik, maar die langvrae makliker. Die omgekeerde is waar van geskiedenis vraestel 2. Die kortvrae was vir my makliker as die langvrae. Ek sien uit daarna om my uitslae te ontvang."
Janco Olivier: "Ek dink nie tyd is die probleem nie, maar dit kan 'n probleem word wanneer jy langer tyd spandeer aan sekere dele soos byvoorbeeld wiskunde vraestel 2 waar 'n vraag nie 'n antwoord gehad het nie. Daar is tye wat jy vashaak en eers later besef hoeveel tyd dit jou gekos het. Dit kan die gevolg wees van slegte voorbereiding, maar dit moenie 'n fout in die vraestel wees nie."
Bea Botha: "Ek het beslis genoeg tyd vir fisiese wetenskap vraestel 1 gehad aangesien ek deur die jaar myself reg ingeoefen het om my tyd goed te bestee, want ek het in die begin so bietjie daarmee gesukkel. Dit was 'n lekker vraestel en die harde werk wat ons in die begin van die jaar gedoen het, het beslis daarmee gehelp."
Jomecia-Lee Kortjé: "Die tyd wat aan ons voorsien is was genoeg om die geskiedenis vraestel 2 te voltooi. Die brongebaseerde vrae was baie verstaanbaar en met hulp van die bronne was dit maklik om te beantwoord. Die opstelvrae was maklik om te beantwoord omdat ek my voorberei het daarvoor."
Sharonè du Preez: "Die geografie vraestel 1 was beter as wat ek verwag het. Ek dink ek het genoeg tyd gekry om die vraestel te beantwoord. Ek is aangenaam verras omdat dit glad nie was wat ek verwag het nie, maar ek dink ek het goed gedoen, want daar was genoeg tyd om die vraestel te beantwoord. Sterkte aan alle matrikulante met die vakke wat nog voorlê."
Garth-Lee Abrahams: "Die vraestelle wat ons sover afgelê het was baie lekker, veral Engels sal ek sê het ek redelik goed gevaar. Dan is daar ook vakke wat bietjie meer uitdagend was, veral die geskiedenis kortvrae. Verder voel ek baie positief dat ek sal oorwin en sien uit na my uitslae. In my mening dink ek dat die tyd wat ons kry hopeloos te min is, want ek was al amper 'n paar keer nie betyds klaar nie. Ek dink ons moet meer tyd gegee word."
Waylon Windvogel: "Geskiedenis is vir my lekker. Ek was maar skrikkerig en gehoop daar sal genoeg tyd sal wees om al die vrae behoorlik te bestudeer. Daar was toe oorgenoeg tyd om elk van die twee vraestelle te beantwoord. Die tweede vraestel was vir my moeiliker as die eerste vraestel. Ek is bly dit is verby."
Wilfred Scholtz: "Ek het genoeg tyd gedurende geskiedenis vraestel 1 en 2 gehad. Die kortvrae van geskiedenis vraestel 1 was baie moeilik, maar die langvrae makliker. Die vertalings van die bronne uit Engels het 'n paar vreemde woorde opgelewer. Die langvrae van geskiedenis vraestel 2 was weer moeiliker as die eerste vraestel."
Chardelia Elias: "Ek het genoeg tyd gehad om my geografie vraestel te voltooi. Toe die vraestel voor my neergesit is, het ek begin twyfel oor hoe ek my tyd sal bestuur. Gelukkig was die vraestel so maklik dat ek myself onnodig onder druk geplaas het. Ek het nog 'n halfuur van my tyd oorgehad."
Hägen Reinstorf: "Daar was definitief genoeg tyd gegee om my fisiese wetenskap vraestel te voltooi. Ek het 30 minute voor die tyd klaargemaak, dus het ek genoeg tyd gehad om my vraestel deur te gaan. Dit was een van die makliker vraestelle wat ek al geskryf het, maar ek dink ons standaard by die skool is hoog. Vraag 8 en 9 het ek bietjie vasgehaak, maar die res was heel billik."
Pieter Marais: "Daar word beslis genoeg tyd by elke vraestel toegeken om dit gemaklik te voltooi, afgesien van moontlike probleme wat so nou en dan opduik. Indien jy sukkel met die moeilike dele, is daar steeds genoeg tyd om terug te gaan en dit dan te probeer oplos. Ek het ervaar dat wiskunde moeilik was en dat daar ouens is wat nie genoeg tyd gehad het nie, hoewel ek net-net klaargemaak het. Ek het fisiese wetenskap maklik voltooi, sowel as Afrikaans en Engels."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'