HESSEQUA NUUS - 'n Eiesoortige markdag is sommer vroeg volgende jaar in die vooruitsig wat nie misgeloop moet word nie.
Green Fingers-tuinbouklub beoog om hierdie besonderse markdag op Saterdag 1 Februarie by Riversdal Wes-kerk te hou.
Volgens Anzette Finnemore van die klub het hulle in die verlede op mooi blomtuine gefokus, maar die droogte en klimaatsverandering het tuiniers genoodsaak om waterwys te word. Die klem het dus na plante wat minder water benodig verskuif.
Finnemore verduidelik dat die voortslepende droogte ook sy impak op die klub se uitstappies en aktiwiteite gehad het: "Besoeke sluit nou 'n wyer spektrum van tuinbou, die natuur en ekologie in, asook maatskaplike aspekte wat raakvlakke met die omgewing het." In die lig daarvan het die bestuur besluit om hul aanvangsfunksie vir 2020 na natuurprodukte uit die Hessequa-streek uit te brei. Die idee het in 'n markdag met stalletjies waar plaaslike vars natuurprodukte vertoon en verkoop sal word, ontwikkel.
Toegang tot die dag is gratis en stalletjies kan teen 'n klein bedrag gehuur word. Vir navrae kan Lynette Nainkin by 028 713 3636 of 082 8214 410 gekontak word. Elektroniese navrae kan aan info@oakhurstguesthouse.co.za gestuur word. As Lynette nie beskikbaar is nie kan Finnemore by 072 189 3549 geskakel word. Hou die klub se Facebook blad dop vir meer inligting: https://www.facebook.com/riversdaltuinbouklub/
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'