RIVERSDAL NUUS - Dit is mannemaand en wêreldwyd word op mans se fisiese en geestelike gesondheid gefokus.
As prostaatkanker betyds geëien word, kan dit behandel en genees word. Wees dapper, gaan buk vir daardie gevreesde vingertoets en handhaaf 'n gesonde leefstyl.
Wie is vatbaar?
Een uit elke ses mans kry prostaatkanker. Dit tas meestal mans ouer as vyftig jaar aan. Ouderdom, oorerflikheid, omgewingsfaktore, dieet en leefstyl is bydraende faktore.
Die mees basiese metode wat dokters wêreldwyd gebruik om prostaatkanker te eien, is deur middel van die vingerondersoek, oftewel 'n digitale rektale ondersoek (DRO).
Só word die prostaatklier via die pasiënt se rektum bereik om na vergroting of verharding van die klier te soek. Saam met die liggaamlike ondersoek word 'n bloedtoets gedoen om die prostaat spesifieke antigeen (PSA) te meet vir die vroeë opsporing en behandeling van kanker.
Die PSA moet vóór die DRO gedoen word, anders kan die uitslag van die bloedtoets misleidend wees, oordiagnosering tot gevolg hê en onnodige bekommernis meebring.
Ek en my huisdokter, Werner Kapp van Riversdal, skud blad. Ek noem hom sommer Dok Werner. Hy het 'n droë humorsin én is 'n prater wat alles wat hy met jou doen sorgvuldig in alledaagse, verstaanbare – én wetenskaplike – taal verduidelik!
Wat is die prostaat?
Die prostaat is deel van 'n man se voortplantingstelsel. Baie mans wonder gereeld hoekom dokters juis daai vingertoets moet doen om by die prostaat uit te kom, maar dis weens die orgaan se spesifieke ligging. Dit is onder die blaas en voor die anus, omring en beskerm deur die sluitspier, 'n paar slagare en 'n bondel senuwees.
Daarom is dit slegs deur die rektum bereikbaar. Die prostaat omvou boonop die basis van die tregter waardeur die urine-leier loop.
"Dis hoekom 'n man se urinestroom sal afneem as die prostaat weens kanker of met ouderdom vergroot, want dit druk teen die urine-leier (uretra)," sê dr. Werner.
Hy verduidelik die hoofdoel van die prostaat is om die vloeistof te verskaf waarin die semen opgelos word. Dit pomp dan letterlik hierdie gekombineerde vloeistof in die urine-leier tydens ejakulasie. Die ander doel is om spermvloei te vergemaklik.
Die prostaat het geen hormonale funksie nie en het daarom nie 'n uitwerking op 'n man se sekslus nie, maar dit ondersteun wel mans se vrugbaarheid. "Te veel mans glo 'n penis is al onderdele wat nodig is om babas te verwek. Solank jou testes rond en gesond is en jy nie ereksieprobleme het nie, is alles oukei. Dit is 'n wanpersepie," waarsku dr. Werner.
Hoe weet jy daar is fout?
Duidelike simptome verskyn ongelukkig nie totdat die kanker al gevorderd is nie. Daar is simptome wat, as dit voortdurend voorkom, kan aandui dat die kanker na gebiede buite die prostaat begin groei het. Van die simptome kan ook deur ander prostaat- of blaasprobleme veroorsaak word:
- 'n Merkbare afname in urine-hoeveelheid.
- Ongewone onderbrekings gedurende urinering.
- 'n Behoefte om dikwels te urineer.
- Pyn gedurende urinering of ejakulasie.
- Bloed in urine of in semen.
Dr. Werner sê: "Mans word aangemoedig – en verkieslik ook oorreed – om 'n volledige siftingsproses te ondergaan. Dit behels die bloed- en vingertoetse. Die uitslag hiervan kan voorkoming bewerkstellig.
Skyndiagnose
Maar oppas nou... Verskeie faktore kan ook 'n vals positiewe of selfs 'n vals negatiewe uitslag veroorsaak. Daarom is 'n normale of 'n verhoogde PSA-telling nie noodwendig gelyk aan kanker nie. Die vingertoets gee die dokter die geleentheid om nie net die prostaat te ondersoek nie, maar ook die onderent van die anus om te verken om ander gewasse of kankers op te spoor. 'n Kombinasie van die siftingtoetse verseker die betroubaarste uitslag.
Met dié inligting kan vasgestel word of 'n biopsie (basies die versameling van prostaatweefsel met 'n naald deur die wand van die rektum) nodig is om 'n ondubbelsinnige diagnose te bevestig.
Die ondersoek
Gelukkig hoef jy nie vir Dok Werner te buk nie. Soos hy altyd sê: "As jy agterkom jou dokter druk albei sy hande op jou skouers, moet jy hol!" Ek krul in die fetusposisie – op my regtersy met albei bene hoog teen my maag tot onder my ken opgetrek - op die hoë ysterbedjie in die spreekkamer.
Ek hoor die Latex-handskoen om sy vingers klap. Uit die hoek van my oog sien ek hom sy vinger in smeermiddel druk. En ek weet wat kom... dáái ferm, slim-geoefende vinger!
Meteens voel dit of daar goed is wat wil uit... Dis asof hy my gedagtes lees. "Ek voel net hoe sterk (tonies) jou knypers (sluitspier) is. 'n Onbeheersde wind (flatusse) is natuurlik; selfs 'n effense stoelgang is nie 'n verrassing nie. Ons is alles gewoond en dit is nie vreemd as 'n bejaarde 'n harde p@#p los nie. Dis nou stank vir dank!"
'n Gesonde prostaat
Dan's hy daar. Die prostaat is 'n okkerneut-vormige klier. Hy wéét waarna hy soek en bevoel die omtrek. "n Gesonde prostaat voel glad. As daar fout is, voel dit groter; selfs rubberhard. 'n Kankerknoppie voel letterlik kliphard. Kry 'n dokter met 'n geoefende vinger!'
Die verleentheid is nie verby nie. "Ek het jou P-kol gevind! Die prostaat word met die G-kol van die vrou vergelyk. Sommige mans ervaar hul orgasmes baie meer intens met direkte massering van die prostaat tydens seks. Ejakulasie weens prostaatstimulering tydens 'n doktersondersoek is nie onnatuurlik nie. Dit is bloot hoe die anatomie werk!"
Toe's hy klaar. Hy vergelyk die siftinguitslae. Dan kry jy jou uitslag vertroulik.
Wat nou?
As die uitslag positief is, is dit nie nodig vir 'n biopsie om vermoedelike prostaatkanker te bevestig nie. Dit skakel die gepaardgaande behandeling (onder meer snykunde, bestralingsterapie, kriogeniese terapie, chemoterapie of hormoomterapie) uit. En dit verhinder die komplikasies wat daaruit kan spruit, waarvan impotensie sekerlik die ergste vonnis sou wees.
Nou het jy nog 'n kans om minstens te probeer om gesond te lewe deur gedurig jou eetgewoontes en leefstyl aan te pas – volgens doktersvoorskrifte!
- Eet gesonder – met 'n verlaagde vet, - suiwel- en kalorie-inname. Eet minder rooi vleis. Eet eerder vis en meer groente en vrugte.
- Moenie rook nie.
- Drink minder.
- Oefen gereeld - al ry jy net fiets, draf of loop net vinniger.
- Gereelde ejakulasie - hetsy deur seks of masturbasie - mag die algehele risiko van prostaatkanker verminder.
- Ontspan en geniet die lewe!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’