HESSEQUA NUUS - 'n 45-jarige man van Kwanokuthula het betreklik lig daarvan afgekom toe sy motor in 'n botsing op die N2 met 'n swaar vragmotor betrokke was.
Volgens die plaaslike polisie was die motorbestuurder op die Vermaaklikheidspad na Riversdal op pad toe hy die N2 gekruis en die swaar vragmotor, wat vanuit die Kaap op pad was na George toe, hom aan die passasierskant getref en oor die pad in 'n aankomende baan gestoot het.
Die man het glo 'n ander vragmotor, wat vanuit Mosselbaai op pad was Kaap toe dopgehou en nie besef hoe naby die aankomende vragmotor aan hom was nie.
Sy motor is onherstelbaar beskadig en ná behandeling deur die noodpersoneel op die toneel is hy met 'n nekbesering na die Riversdal-hospitaal vervoer.
Die vragmotor en sy bestuurder is ongedeerd.
Só lyk die passasiersmotor nadat die bestuurder hom misgis het en 'n aankomende trok, op pad vanuit die Kaap na George, hom aan sy passasierskant getref het. Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’