Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Wat 'n fees met spoed moes wees, is toe 'n trein sonder stoom. Soos die lokomotief, waarna die Makadasfees genoem is.
Die naweek van 4 en 5 Desember is vir 'n uitbundige gemeenskapfees uitgesit, georganiseer deur die restauranteienaar Gys Hough.
Die markplein was jolig getooi en die omgewing se uitvoerende talent het hul allerbeste gegee. Op die vermaakspyskaart was musiek deur Likkies (Daniel Gericke), DJ Roy, DJ Harry, die sanger en liedjieskrywer Jo-Ann de Waal en die sanger Marius Bresler. Die betowerende saxofoonspeler, Carinda van den Berg en die Crusaders-blaasorkes, die kuns van die koor RUK (Riversdal Uitvoerende Kunste) en die poësie van die digter Bernard Fielies, het verder luister aan die geleentheid verleen.
Alles was in plek om die tjoek-tjoek met woema spoed te gee.
Covid 19-reëls het gegeld en is streng toegepas: die dra van maskers, sosiale afstand en gereelde sanitasie.
Die kunstenaars hét opgedaag.
Daar was 'n paar stalletjies waar feesgangers winskopies kon snuffel en informele handelaars 'n winsie kon maak.
Maar daar was min voete en die beursies meestal toe.
Die fees het Vrydagmiddag om 14:00 begin met die hoop op 'n uitbundige viering van samesyn.
Kyk 'n video hieronder:
Die weer was egter deurmekaar, die wind was triestig en daar was min plesierigheid.
Die kunstenaars het deur die dag opgetree, die Kersliggies is die aand aangeskakel en teen 21:00 het die markplein stiller geraak.
Saterdag sou die hoogtepunt wees; selfs die weer was aanvanklik vriendeliker.
Helaas, die trein kon maar net nie die wiele laat rol nie.
Teen middagete was die kole op en is die vuur in die enjin geblus.
Daar sou onder meer ook 'n modevertoning wees met uitrustings wat uit herwinbare produkte geskep is. Dié item en die res van die program is egter gekanselleer.
Hier en daar was daar nog 'n stalletjie in bedryf - van 'n vryheidspartypolitieke tent, 'n worsbroodjie-braai, 'n spookasem-kiosk en ontwerper-kaktusplantjies tot vars gebak. Maar die gesondheidsinspekteur het besluit die son is nie gesond nie; die dorpenaars blykbaar ook.
Toe word die wind ook sommer weer boos.
Stalletjies het in 'n japtrap opgebreek, die wapperende linte om die plein is verwyder en die musiek het ophou speel.
Die markplein was meteens leeg en kaal: Makadas-stilte.
Hoekom het dié trein ontspoor?
Mense se vrees vir die koronavirus, karige reklame en bloot 'n gebrek aan belangstelling het moontlik daartoe bygedra. Die dorpenaars wat wel opgedaag het, het meerendeels binne die inperkingreëls opgetree en het 'n wyle sorgvry in die ongemaklike grendeltyd makietie gehou.
Die welstand en geestesgesondheid van 'n gemeenskap word in sy letterkunde, kuns, kultuur en vermaak weerspieël. Geoordeel aan die Makadasfees-spieël gaan dit nog 'n rukkie neem om die letsels van 2020 te genees.
So lank daar treine loop, is mense seker daar sál 'n terugreis wees.
Die organiseerder, Gys Hough.
Stalletjies en kunstenaars, maar helaas weinig voete.
Vorige artikel: Makadas ontspoor toe
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'