Update
RIVERSDAL NUUS - Nadat die dorp se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) Makadas as ’n veiligheidsrisiko geïdentifiseer het, kon hulle aan die werk spring om dit te beveilig.
Beth Payne, voorsitter van die GPF het gesê: “Die polisie het kriminele se vingerafdrukke binne in die stoomlokomotief gevind. Klere en komberse is ook onderandere daar gekry. Dit het as ’n skuilplek gedien en daarom moes ons ingryp. Makadas is ook ’n toeriste aantreklikheid en wil ons in samewerking met Hessequa-munisipaliteit dit herstel. Inwoners moet weer trots op die lokomotief kan wees.”
Die lokomotief is nou toegesweis en niemand sal meer daar kan inklim nie. Stukkende dele is reggemaak en Makadas gaan ’n nuwe laag verf kry. Die munisipaliteit het die hoëdrukspuit en aarbeid voorsien om dit skoon te kry voor dit geverf word.
Die GPF en munisipaliteit beoog om ’n beter veiligheidsheining rondom die lokomotief op te rig sodat name en vuil taal nie daarop uitgekrap kan word nie.
Die oprig van gedenkplaatjies is in die toekomsplanne, maar die GPF benodig skenkings in die vorm van geld of plaatjies hiervoor.
Makadas is deur die SA Spoorweë aan die munisipaliteit geskenk en kosteloos vervoer om as monument opgerig te word.
JL Steyn, ’n masjinis van Riversdal, het die lokomotief daarheen gesleep en op Woensdag 21 Januarie 1977 het dit veilig op Riversdal aangekom. Gedurende Junie 1977 is dit van die stasie na die plein verskuif.
Makadas het ’n wielsamestelling van 4-8-0 tipe. Die lokomotief Nr. 970 is in 1892 deur Neilson en Kie van Glasgow vervaardig. Die lengte van buffer tot buffer was 15.270 m met ’n trekkrag van 8471,632 kg en ’n keteldruk van 74,675 kg. Die totale gewig is aangegee as 40,94 ton en die steenkool-kapasiteit is sowat 8 ton.
Enigeen wat ’n bydrae wil maak, kan Beth Paine by 078 539 4802 skakel.
Lees 'n vorige artikel hier: Makadas nou nie meer 'n kas.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'