Update
SUID-KAAP NUUS - 'n Volle maansverduistering sal Vrydagaand 27 Julie gesien kan word.
Anders as tydens 'n sonsverduistering waar die skaduwee van die maan slegs in 'n relatief smal strook oor die aarde beweeg, is 'n maansverduistering sigbaar vanaf enige plek op die aarde wat die maan kan sien tydens die verduistering.
Die keer is ons gelukkig, want bykans die hele Afrika sal die verduistering kan sien.
Die maan sal teen 19:15 in die aarde se halfskaduwee begin inbeweeg en net effens van kleur begin verander. Teen 20:30 sal die aarde se skaduwee begin om van die oostekant oor die maan in te beweeg en teen 21:30 sal die totale verduistering sigbaar wees en vir ongeveer twee ure aanhou, voor die sonlig weer aan die oostekant van die maan sal begin sigbaar word.
Die maan is tans op sy vêrste afstand van die aarde in sy elliptiese baan en sal dus effens kleiner vertoon as tydens die vorige verduistering. Wat hierdie verduistering spesiaal maak is dat die maan deur die middel van die aarde se skaduwee gaan beweeg en in die middel van die totale verduistering 'n eweredige donkerrooi kleur sal wys, anders as op die foto waar die eenkant nog ligter vertoon.
Daar is 'n pragtige nie-amptelike naam vir die soort maan: Merlot Maan. Gesondheid!
Lees 'n vorige artikel: Maansverduistering ook in Afrika te sien
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'