SUID-KAAP NUUS - Kersfeesversierings is om elke hoek en draai sigbaar, winskopiebordjies word oral waargeneem en Kersliedere speel oral in winkelsentrums.
Of jy nou daarvan hou of nie, Kersdag is byna hier. Die groot, finansiële vraag wat jy jouself moet afvra, is of jy jou Kersfeesbegroting gaan maak werk vanjaar, of gaan jy met die naskok van rekening op rekening eindig?
Volgens die terugvoer en statistieke van DebtSafe se onlangse vraelys het 60% van die 1 000+ respondente aangedui dat hulle skuld het.
Hul skuld bestaan hoofsaaklik uit persoonlike lenings (60%), kredietkaarte (40%) en klererekeninge (60%).
Vyftig persent van die deelnemers wat skuld het is agterstallig, waarvan die meerderheid meer as drie maande agter is met hul terugbetalings.
Volgens Matthys Potgieter, woordvoerder en skuldkenner by die organisasie doen baie verbruikers nie vooraf die nodige finansiële beplanning en voorbereiding vir hierdie spesiale feestyd nie en daarom roekeloos gebruik maak van krediet, soos krediet- of winkelkaarte).
Daar is vyf dinge wat jy in ag kan neem om jou Kersfeesbegroting vir jou sak te maak werk hierdie jaar:
Beplanning en begroting
Stel 'n ontwerpplan vir jou Kersdagbegroting op en gaan daarvolgens te werk. Afgesien van jou gewone maandelikse begroting, moet jou Kersdagbegroting as 'n 'ekstra' vir Desember bygevoeg word.
As jy byvoorbeeld R3 000 spesifiek vir Kersdag toeken, verdeel die bedrag in verskillende kategorieë wat dinge soos kos, geskenke, reiskostes en aktiwiteite insluit.
Voeg die nodige besonderhede by om die groter finansiële prentjie van Kersdag vir jouself te skets.
Dit sal vir jou 'n duidelike aanduiding gee wat jou 'spandeer-deksel' hierdie jaar gaan toelaat.
Kos en disse/geregte
Kersfees hoef jou nie 'n arm en 'n been te kos nie. Watter nie-bederfbare produkte het jy reeds in jou koskas?
Miskien is die vleis by die boeremark of by die kruidenierswinkel inderdaad 'n winskopie, maak dus gebruik daarvan as dit binne jou begroting val.
Indien jy as gasheer optree, laat toe dat jou gaste en geliefdes 'deelneem' deur hulle eie drinkgoed en 'n slaai of nagereg saam te bring.
Deelname is lekker én dit is opwindend om te sien watter disse almal voorberei het vir die feesmaal.
Kersfeesgeskenke en -versierings
Kersdag is nie 'n uitspattige geleentheid nie. Wat van 'n doen-dit-jouself Kersfees hierdie jaar? 'n Handgemaakte geskenk en die kinders wat kans kry om hulle eie kreatiewe kersversierings en idees na die tafel-, huis-, tuin- of kersboom te bring, is inderdaad spesiaal.
Gebruik items in jou huis wat jy reeds tot jou beskikking het.
Reiskostes
As jy van punt A na punt B op Kersdag moet reis, neem die volgende in ag: As vriende of familie in jou area na dieselfde bestemming ry, gebruik twee motors in plaas van drie; vermy tolpaaie waar moontlik; kry die beste brandstofverbruik deur 'n konstante spoed na jou bestemming te handhaaf; as jy in swaar verkeer vasgevang word, skakel die motorenjin vir 'n rukkie af (nie deurlopend nie).
Aktiwiteite
Betrek almal deur prettige speletjies, soos outydse boeresport of jukskei te speel met items en toerusting wat jy reeds beskikbaar het.
Daar is baie aktiwiteite (insluitend binnenshuis) wat jy kan doen – sien Pinterest. Aktiwiteite soos hierdie sal jou begroting beslis binne perke hou.
Moenie in 'n skuldstrik vasgevang word nie, want jy sal jou finansiële posisie heeltemal tot in die afgrond in laat sink.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'