Update
SUID-KAAP NUUS - Dis al weer sulke tyd - dis eksamenmaand. Die meeste skoolkinders wat ek ken, hou nie van hierdie paar weke nie.
Dis halfjaar, en nou moet mens verantwoording doen vir wat jy van die begin van die jaar af tot nou toe geleer het. Baie leerders wonder of daar nie 'n ander manier is om hul kennis van 'n leerarea te toets nie.
Wat van 'n mondelingse eksaminering? Ander sê weer mens kan take gegee word om na te vors en dan 'n voorlegging maak voor 'n paneel, of net inhandig vir punte. Ongelukkig werk dit nie so nie! Teen hierdie tyd het jy al 'n eksamenrooster voor jou. Jy moet begin voorberei.
Hier is raad
• Die mense by die huis moet weet dat jy gaan skryf en dat jy hulle samewerking nodig het. Indien jy nie by die huis kan studeer nie, kry dan 'n ander plek, al moet jy die skool nader vir 'n klaskamer na skool-ure.
• Kry jou boeke en notas vir elke vak agtermekaar. Jy kan nie halfpad deur 'n studietyd na 'n boek of notas soek nie. Sit alles netjies bymekaar.
• Stel vir jou 'n studierooster op. Begin met die vakke wat jy eerste skryf, of waaraan jy die meeste aandag moet gee. Wees getrou aan jou rooster en hou by jou studietye. Probeer om nie langer as 40 minute aaneen te studeer nie. Staan op, strek of loop 'n draai en kom sit weer na vyf minute.
In elke sitting moet jy die stuk voor jou afstudeer en ken. Moenie te groot stukke op een slag studeer nie.
• Kyk na hooftoetse, take en klastoetse oor werk wat in die twee kwartale afgehandel is. Wees krities teenoor jouself. Weet jy hoekom jy daardie (lae) punt gekry het? Maak aanvullende aantekeninge uit jou handboek waar jou werk te kort geskiet het.
• Kyk na vorige halfjaarlikse eksamenvraestelle wat oor dieselfde werk gaan, veral na die vorige twee jaar se vraestelle. Kyk hoe die vrae gestel word. Watter is sleutelwoorde in die vraag? Watter inligting moet mens gee en wat nie?
• Dink aan watter ander vrae moontlik gevra kan word; wat in die klas bespreek was, veral dit wat so benadruk was. Stel vas watter vrae was nie gevra nie.
• Sluit aan by 'n groep net om jou kennis te toets. Vind 'n manier om jou kennis te toets; vra 'n maat en sit vir 'n paar uur saam.
• Probeer vorige vrae oor die werk beantwoord. Maak 'n 'mind-map' en dui puntsgewys die kernwoorde daarop aan. Dis hierdie mind-map wat jy in die eksamen 'oproep' en wat jou die eksamen lag-lag gaan laat slaag.
Lees 'n vorige artikel: Maak leerwerk makliker
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'