STILBAAI NUUS - Die bekende skilder, Louis Hiemstra (78) is Saterdag, 31 Julie in die Life Bayview privaat hospitaal op Mosselbaai oorlede waar hy vir agt weke behandel is na hy positief vir Covid-19 getoets is.
Sy vrou, Ann het saam met hom siek geword, maar het herstel terwyl sy in self-isolasie was.
Louis, die oudste van ses kinders van wyle genl RC Hiemstra, hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag in die 1970's, is op 9 Maart 1943 in Pretoria gebore. Hy het matriek aan die Afrikaans Hoër Seunskool in 1960 voltooi, waarna hy deur die weermag medies aan die Universiteit van Pretoria studeer het.
Hy het hom ook as 'n lugmagvlieënier bekwaam en het Harvards gevlieg as 'n burgermag vlieënier. Op universiteit het hy vir Ann Higgens, wat ook medies studeer het ontmoet en hulle is laat in hulle studiejare getroud. Hy het hom in 1968 as geneesheer bekwaam en in 1971 is hulle Virginia toe om as dokters te praktiseer.
In 1983 het die Universiteit van die Oranje Vrystaat hom gevra om daar as senior lektor by die department huisartskunde aan die mediese skool aan te sluit, waar hy ook later as mede-professor tot met sy aftrede gedien het.
In hierdie tyd het Ann as stadsgeneesheer in Bloemfontein gewerk. Hulle het vier seuns, Rudolf in Knysna, Jopie in Engeland, Louis in Panama en Hubert in Australië.
Spotprentkunstenaar
Louis se jarelange vriend, Danie Joubert sê dat Louis reeds op skool as spotprenttekenaar ontluik het en dit was vir baie jare die fokus van sy kuns. Hy was gedurende sy studiejare die spotprenttekenaar van die Universiteit van Pretoria se nuusblad, Die Perdeby en later die outeur van 'n weeklikse spotprentstrokie, Swartskaap van Die Volksblad in Bloemfontein. Hy is alombekend vir sy FunART-reklameteken.
Sedert die laat sewentigerjare het Louis meer formele skildervaardighede aan sy kuns begin toevoeg. Hy het aan baie kunswerkwinkels deelgeneem en sulke werkwinkels, een in Kroasië met 'n skildervakansie, ook self aangebied. Hy het sedertdien aan vele nasionale en ander uitstallings deelgeneem.
Sy werk word goed verteenwoordig in plaaslike galerye, korporatiewe geboue en wonings in Suid-Afrika, asook oorsee.
Louis was 'n genoot van die voormalige Waterverfgenootskap van Suid-Afrika en het aan etlike nasionale uitstallings van die genootskap deelgeneem. Hy was per geleentheid selfs keurder van die nasionale uitstallings van die genootskap. Behalwe vir waterverf gebruik hy ook akriel en olie as medium en hy het ook illustrasies vir verskeie boeke gedoen.
Die egpaar het hulle in 2008 in Stilbaai gevestig, waar hy hom voltyds aan sy kuns gewy het.
Hy het kunsklasse by hulle huis, wat spesifiek daarvoor ingerig is, in Fisantekraal aangebied. Hy was baie by die Stilbaai-musiekvereniging, die manne- en kerkkoor betrokke. Drie jaar gelede het hy vir hom 'n klarinet gekoop en leer speel.
LEES: Covid-19 eis ook bekende Skilder van Stilbaai
Fenomenale skilder
Volgens Sonja Margerison, jarelange kunskollega was Louis 'n fenomenale Suid-Afrikaanse kunstenaar. Sy is die Stilbaai verteenwoordiger op die Hessequa-kunsroete waarvan Louis ook deel was.
"Hy het eindelose talent gehad en was 'n groot inspirasie vir elkeen wat sy pad gekruis het. A life well lived, we salute you and know the angels are singing, until we meet again."
Stilbaai Toerisme, waar hy 'n lid was beskryf hom as 'n legende in die kunswêreld en in die harte van elke Stilbaaier wat hom geken het.
Louis sal nie net onthou word aan die nalatenskap van sy kunswerke nie, maar ook aan die diep spore wat hy getrap het waar hy ookal was.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'