HESSEQUA NUUS - Gevlekte ooruile is baie algemeen in die kontrei en die broeityd is gewoonlik in die somermaande of droër maande.
Eiers word meestal tussen Julie en Oktober gelê. Die wyfie sal broei terwyl die mannetjie kos jag en aandra.
Uile het net een lewensmaat en is baie goeie ouers.
Hulle het normaalweg 'n gemiddelde leeftyd van 10 jaar.
Dikwels word 'n uiltjie onder bome gewaar en mense se instink is om samaritaan te speel en die bolletjie sagte veertjies te red.
Dr. Tina Kaldenberg van 'n plaaslike dierekliniek se raad is om heel eerste die omgewing te verken en kyk of jy 'n nes naby gewaar.
"Sit die kleintjie terug in die nes en los hulle in vrede," raai sy aan.
Sy beklemtoon dat dit nie waar is dat 'n uil haar kleintjie sal verwerp as 'n mens eers die kleintjie hanteer het nie.
'n Uil verwerp gewoonlik 'n kleintjie slegs as daar iets fout is of as hy beseer is.
Indien dit 'n veilige plek is vir die kleintjie, los hom net waar hy is, want die ouers versorg hom daar.
Waar die kuikentjie se lewe moontlik in gevaar kan wees, sou dit dan wys wees om hom na 'n veearts, CapeNature of 'n gekwalifiseerde persoon te neem wat na wilde diere kan omsien en rehabiliteer.
Kleintjies se ogies is aanvanklik grys en word geel na om en by twee weke. Die wollerige jongelinge begin die nes verlaat om die omgewing te verken rondom vier tot ses weke en kan begin vlieg op sewe weke.
Die ouers versorg die kuikentjies vir 'n verdere vyf weke nadat hulle begin vlieg het en is nooit te ver van hul kroos af nie.
'n Gevlekte ooruiltjie hou jou dop!
Gevlekte ooruile word baie dikwels langs paaie gewaar omrede voertuie insekte raakry en dit maklike kos in die maag is.
Ongelukkig is dit ook juis die oorsaak dat so baie deur voertuie getref word.
Uile speel 'n baie belangrike rol in die ekologie en help geweldig baie met die beheer van muise en rotte in die omgewing.
'We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news'