STILBAAI NUUS - Lorna Scott, stigter en hoof- uitvoerende beampte van Inverroche Distillery in Stilbaai lewe vir volhoubare ontwikkeling en die opheffing van plaaslike entrepreneurs.
Lorna is 'n vrou van vele talente en was in haar tyd al 'n lugwaardin, waarna sy bemarking- en verkoopsbestuurder was van 'n voedseldienskorporasie. Sy het later die operasionele direkteur van hierdie korporasie geword.
Dis hier waar haar loopbaanrigting totaal verander het en sy die onderburgemeester van Hessequa-munisipaliteit geword het.
Alhoewel sy 'n bemarkingsagtergrond het, het sy in hierdie tyd betrokke geraak in volhoubare ontwikkeling. Een van haar hoofdoelwitte was om die streek te bemark as 'n toerismebestemming en werkskepping vir die plaaslike gemeenskap.
Scott het tans programme waar sy entrepreneurs wys hoe om die gemeenskappe waarvandaan hulle kom op te hef en te laat groei. Sy het Thought Leadership-werksessies landwyd om entrepreneurs te help om hulself te verbind om mense te help deur opvoeding en aktiewe betrokkenheid.
Lorna help entrepreneurs wegbeweeg van praat oor hulle produkte na die oplossing van industrie en kliënte probleme. Hulle word dus betroubare adviseurs vir die breër gemeenskap, hulle werknemers en hul industrie.
Lorna het ook 'n wêreldbekende argeologiese terrein ontdek baie naby die Inverroche Distillery, met spore van hoe die mens oorleef het honderde duisende jare gelede en wat die oseaan en plantlewe voorsien het.
Sy wou 'n globale handelsmerk en produkreeks skep om die geskiedenis van Stilbaai te vertel deur die Kaapse fynbos, wat die voorgeslagte onderhou het, te gebruik. Hierdeur het sy 'n kommersiële funksie aan fynbos gegee en beskerm dit teen landbou-ontwikkeling.
Sy was die eerste om die geur van jenewer te versterk met fynbos. Hierdeur is 'n nuwe kategorie plaaslik en internasionaal geskep.
Haar passie vir volhoubaarheid het gelei tot 'n suksesvolle eko-vriendelike besigheid waar 70% van die personeel uit vroue van die plaaslike gemeenskap bestaan.
Die totale jenewer vervaardigingsproses, van die distillering tot waar dit gebottel word is in harmonie met die omgewing. Inverroche is tans beskikbaar in meer as 16 lande wêreldwyd beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'