Gallery
RIVERSDAL NUUS - Lees sluit nuwe wêrelde vir jou oop.
Dit is die boodskap wat president Cyril Ramaphosa se leesaksie, The President's Reading Circle wil uitdra.
Die plaaslike biblioteek het Woensdag 23 Oktober 22 boeke as deel van die program ontvang. Die program is die uitvloeisel van die National Reading Coalition (NRC) wat vroeër vanjaar geskep is. Die doel daarvan is om alle rolspelers te motiveer om kinders se lees- en skryfvaardighede te bevorder.
Die boeke sluit fiksie en nie-fiksie topverkopers soos onder meer The Boys of Bird Island en Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat in. Dit is deur Jethro Grootboom, regeringswoord-voerder aan Elna Karstens, voorsitter van die plaaslike leeskring oorhandig. "Sodra die boeke op die biblioteekstelsel geregistreer is, sal dit deel vorm van die duisende boeke en ander biblioteekitems in Hessequa se nege groot biblioteke, vier mini-biblioteke en een satellietbiblioteek," sê Ursula Oosthuizen, bestuurder van die biblioteekdiens.
"As kinders nie lees nie het dit 'n invloed op hul vordering op skool," het Grootboom tydens die oorhandigingseremonie in die raadsaal gesê. Grant Riddles, uitvoerende burgemeester het gesê lees is belangrik om die brein wakker en gesond te hou.
"Lees is ongetwyfeld een van die belangrikste vaardighede wat mens benodig om sukses in die lewe te behaal," sê Oosthuizen. "Feitlik alles wat jy doen behels die vermoë om te kan lees. Ons moet dit veral by kinders tuisbring dat lees die wêreld vir jou oopmaak. Ons moet hulle motiveer om te lees en by die biblioteek aan te sluit."
Enige persoon kan gratis by die biblioteke registreer indien hy/sy boeke of ander materiaal wil uitneem. Enigiemand mag gratis en sonder registrasie navorsing doen en die rekenaars gebruik.
Die biblioteek het verskeie projekte om kinders en volwassenes te motiveer om van die diens gebruik te maak. "Almal is welkom om die biblioteke te gebruik. Daarom het ons twee projekte om leerders en volwassenes wat die diens gebruik, geleentheid te gee om hul biblioteekboetes vir laat inhandigings te oorkom."
Die boete beloop 20c per boek per dag wat dit laat is. Kinders wat boeke laat terugbesorg, kan hul boete afkoop deur 12 boeke te lees. Volwassenes kan hul boete afkoop deur nie-bederfbare voedsel vir die biblioteek te skenk. Die voedsel word aan 'n liefdadigheidsorganisasie gegee.
Ten spyte van rekenaar- en selfoontegnologie wat naslaanbronne en boeke aanlyn beskikbaar stel, is daar steeds duisende mense wat van die biblioteek se dienste gebruik maak.
Sowat 15 443 mense het die afgelope boekjaar boeke uitgeneem. Altesaam 371 841 biblioteekitems is in die 2018/2019-boekjaar uitgeneem.
Naas die groot aantal boeke, beskik die nege groot biblioteke elk oor agt rekenaars en internet. Elkeen van die biblioteke het 'n navorsingslokaal.
Biblioteekure verskil en die tye is op die munisipaliteit se webtuiste by http://www.hessequa.gov.za/municipal-services/library/ beskikbaar.
Vakansieprogramme wat deur die verskillende biblioteke aangebied word, is ook daar beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'