Update
STILBAAI NUUS - Die polisie, Hessequa-brandweer en die Nasionale Seereddings-instituut (NSRI) het leerders van Melkhoutfontein Primêr gewys wat om in 'n noodsituasie te doen.
Lede van die drie instansies het die skool van 10 tot 13 Junie besoek om die leerders touwys te maak oor hoe om op te tree in die geval van 'n brand of verdrinking.
"Die inligtingsessie het saamgeval met die skole se veiligheidsweek," het Arrie Combrinck, NSRI Stilbaai se stasiebevelvoerder, gesê.
"Die NSRI het vir die leerders 'n waterveiligheidsplan gegee. P staan vir plan - hulle moet vooruit dink wat hulle moet saamneem, soos sonbrandroom, 'n handdoek, eet- en drinkgoed. L staan vir look - hulle moet kyk wat die omstandighede op die strand is, soos oplet vir seestrome. A staan vir ask - hulle moet altyd toestemming vra voor hulle strand toe gaan. N staan vir never alone - hulle moet nooit alleen strand toe gaan nie."
Christian September en sy span van Hessequa-brandweer het vir die leerders gewys wat om te maak in geval 'n brand uitbreek. Hulle het ook hul toerusting demonstreer. Volgens sers. Chrisy Lewaks, koördineerder van gemeenskapsveiligheid wat die inligtingsessie gereël het, het van die onderwysers agterna gesê hulle het self nie geweet wat om in 'n noodsituasie te doen nie. Die inligtingsessie sal voortaan jaarliks aangebied word.
George Sabbagha, onderbevelvoerder van die NSRI, wys hoe 'n verdrinking-slagoffer hanteer moet word.
Hessequa-brandweer het die leerders gewys wat om in die geval van ’n brand te doen.
Lees 'n vorige artikel hier: Leerders gewys wat om in nood te doen
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'