STILBAAI NUUS - Lynette Beer het Vrydagoggend, 10 Maart, die NG Kerk van Stilbaai op sy kop gekeer.
Sy was soos 'n sagte briesie wat skielik stormsterk gewaai het, net om die volgende oomblik te dwarrel. Sy het haar praatjie begin deur te sê dat God elkeen van ons bedraad het.
"Hy het aan jou gedink en besluit jy moet 'n Jeremia wees, want Hy gaan jou eendag nodig hê. So het Hy aan elke mens op aarde gedink en besluit hoe jy bedraad moet word. Jou ouers was net die voertuig van Sy skepping. Ongelukkig sterf baie mense sonder om te weet wat hulle doel vir God was."
Lynette sê sy het in die kerk grootgeword. Begrafnis, troue, erediens - hulle was daar. Sy het in die teologie studeer en was vir vier jaar en sewentien dae op die kansel, maar toe moes sy uit. "Die kerkpolitiek, jaloesie en afguns het vir my net te veel geraak."
Sy het verder studeer en die korporatiewe wêreld betree waar sy baie suksesvol was en in 'n baanbreker in persoonlike ontwikkeling en korporatiewe groei ontpop het.
Sy sê dat mense verskil, elkeen dink anders, doen anders en het 'n ander siening van pret, stres, besluitneming of hoe om dinge gedoen te kry. "Dink net hoe suksesvoller en gelukkiger jy sal wees as jy die insig het om jouself en ander te verstaan. Jy moet dus weet wie hy of sy is en dan moet jy ook weet wie jy is."
Hiervoor gebruik Lynette die vier kleure; geel, blou, rooi en groen. Elkeen verteenwoordig 'n ander temperament. Daar is gewilde geel, besliste blou, rasende rooi en geruste groen.
"God het aan elkeen al vier temperamente gegee en elke persoon het 'n spesifieke temperament samestelling. Dit bestaan uit 'n primêre en sekondêre temperament waarin jy daagliks leef en die kombinasies daarvan verskil van persoon tot persoon. Jy moet hierdie temperamente verstaan anders gaan jy afleidings maak. Die wortel van alle kwaad is ego en afleidings is 95% verkeerd. Onthou egter dat die Heilige Gees enigeen draaglik maak."
Lynette deel 'n oomblik met Renee Davids en ander raadslede.
Lynette benadruk dat jy nie jou kennis van die temperamentsoorte se swak eienskappe mag gebruik as wapen om ander te verneder nie. Sy sê ook verder verloor eerder die geveg, maar behou jou verhouding.
"Die liefde oorwin alles en jy sal nooit ooit van buite verander nie. Jy moet verander van binne."
Lynette het op 'n pragtige, prettige manier een en almal in die kerkgebou ernstig laat dink aan sy of haar verhoudings en almal laat besef hoe belangrik dit is om jou lewe in volkleur te leef.
Lynette teken van haar boeke.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'