STILBAAI NUUS - Dit sit nie in enigiemand se broek om dissiplines wat met oergeskiedenis werk, hand-aan-hand met moderne wetenskap te gebruik en 'n sinvolle prentjie daaruit te kry nie.
'n Gesprek met paleo- en plant-ekoloog dr. Jan de Vynck laat dit egter na kinderspeletjies klink.
Dié wetenskaplike se passie vir sy werk straal behoorlik uit hom. Sy dryfkrag om die Suid-Kaap se geheime oor die beginjare van ons spesie te ontrafel het al tot talle projekte gelei en hy is sedert 1993 by studies saam met die Hessequa Argeologiese Vereniging betrokke.
Sy pad met die akademie het in 1995 by die Universiteit van Stellenbosch begin, toe hy 'n graad met argeologie en antropologie as hoofvakke verwerf het. Sy liefde vir dié vakgebiede het egter heelwat vroeër begin. Hy vertel van 'n skooluitstappie na Graaff-Reinet toe hy in gr. 7 was: "Een middag het die gids ons na 'n stuk veld geneem en gesê daar lê heelwat Boesmanwerktuie rond wat ons kan optel. Hy het ons gewys hoe dit lyk en ons het een na die ander stuk gevind. Die verwondering oor die storie wat 'n voorwerp van so lank gelede vandag nog kan vertel, het my nooit weer verlaat nie."
Sy liefde vir die legkaart van die geskiedenis het hom in noue kontak met dissiplines soos botanie gebring, waarin hy 'n meestersgraad aan die Nelson Mandela Universiteit behaal het. Hy is sedert 2009 aan dié universiteit se African Centre for Coastal Palaeoscience as direkteur en navorsingsgenoot verbonde, waar hy onder meer plantspesies wat deur vroeë inwoners gebruik was, bestudeer en dit in verband met die huidige bevolking bring: "Ek pas antropologie op argeologie toe," sê De Vynck. Sodoende word nuwe inligting oor kulture ingewin.
Vir sy doktorsgraad het hy die klem na die invloed van skulpkos op die kognitiewe ontwikkeling van strandbewoners in die Suid-Kaap verskuif. Skulpkos is baie ryk in omega-3 en -6 en het as diverse en volhoubare bron oor generasies heen 'n groot verskil gemaak.
De Vynck werk tans saam met die Hessequa Argeologiese Vereniging aan die finalisering van die Wes-Kaapse departement van kultuur en sport se toerismeroeteprojek: "Met die oprigting van 'n inligtingsentrum en museum sal Stilbaai pa vir die Blombos-grot staan."
Tussen Ph.D-studente wat op die akademiese pad begelei moet word, navorsing en 'n gesin bly Jan de Vynck egter altyd bereid om sy fassinerende werksgebied vir ander mense met sy kleurvolle verduidelikings oop te sluit.
’n Versteende spoor van die uitgestorwe Kaapse buffel wat dr. De Vynck en sy span oos van Stilbaai gevind het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'