HEIDELBERG NUUS - Dié dorpie se bergtoppe was Sondagoggend 16 Julie onder 'n sneeukombers toegewikkel en kon inwoners en motoriste hulself verbeel dat hul iewers tussen die Switserse Alpe is.
Serpe, handskoene en mussies is nadergetrek, want die koue windjie oor die ys kan mens behoorlik laat bibber. Na goeie reëns deur die nag het hierdie sprokiesprentjie almal, wat genoeg moed bymekaar geskraap het om hulle neuse by die deur uit te steek, begroet.
Volgens Michelle Steenkamp, 'n plaaslike inwoner, het hulle 15,17 en 22mm reën op drie verskillende plase gemeet wat tussen Heidelberg en Swellendam is. "Hoe nader aan die berg, hoe meer reën." (Aletta Sutherland, korrespondent).
• Sover vasgestel kon word, het geen sneeu op Riversdal (Sleeping Beauty) of die Garciapas geval nie, maar wel die Outeniquaberge buite George en die Swartberge buite Oudtshoorn.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'