RIVERSDAL NUUS - Die plaaslike landbouskou vier volgende jaar sy 150ste bestaansjaar, 'n besonderse mylpaal in dié dorp se geskiedenis en om hierdie spesiale geleentheid mee af te skop, is Saterdag 30 September 'n plesierrit gehou.
Een en twintig ruiters het deelgeneem en ruiters van sover as Knysna en Ladismith het die rit kom ondersteun. 'n Gesellige braaivleis by die skouterrein Vrydagaand en 'n heerlike ontbyt Saterdagoggend het die plesierrit voorafgegaan.
Ruiters het om 08:30 onder verkeersbegeleiding vertrek in die rigting van die Korentepoortdam.
By die dam het die perde water gedrink en sommige ruiters het selfs geswem, terwyl ander die pragtige natuurskoon waardeer en geniet het.
Toe die perde oor die kop kom, was die braaivleisvure reeds op Oudebosch Gasteplaas aangesteek.
Goeie kos, 'n feestelike atmosfeer en 'n koeligheidjie vir die kele het die span sommer weer moed gegee vir die tweede helfte.
Vanaf die gasteplaas het ruiters oor die Kleinberg gery en asemrowende veldblomme en natuurskoon beleef.
Die ruiters het vanaf die skouterrein op Riversdal vertrek.
Vandaar is hulle terug met die Holbak-Vetterivierpad na die skouterrein.
Toe die perde 'huis toe' in die neus kry, was dit maar moeilik om die spoed laag te hou.
Ongeveer 40 km in totaal is afgelê en die ruiters kan baie trots wees op hul perde en op hulself.
Hulle bedank elke boer oor wie se grond gery is.
Lees 'n vorige artikel: Plesierrit vir Landbouskou
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'