STILBAAI NUUS - As jy nog nie jou stem vir Stilbaai uitgebring het vir Kwêla se Dorp van die jaar-kompetisie nie, sal jy moet wikkel.
Inwoners van Hessequa het nog net môre, Vrydag 28 April, tot 12:00 kans om vir Stilbaai te stem.
Stilbaai is nog nie voorheen as Suid-Afrika se voorste dorp aangewys nie en met 'n goeie spanpoging van al sy inwoners hier in die stuiptrekkings van die Kwêla-kompetisie, kan Stilbaai as die Wes-Kaapse finalis aangewys word.
Die dorp met die meeste stemme sal in elkeen van die nege streke in Suid-Afrika aangewys word om dié streek as 'n finalis in die eindronde te verteenwoordig.
Hierdie is dus die allerlaaste kans om Stilbaai as die Wes-Kaapse finalis in te stem.
Die wenner sal op Sondag 30 April bekendgemaak word.
Kwêla sal 'n insetsel kom verfilm op elk van die nege dorpies wat die finale ronde gehaal het.
Wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek van 18:00 op 16 Julie tot 12:00 die middag, 21 Julie, vir die wendorp kan stem. Die dorp met die meeste stemme al as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys word.
Die wendorp word op 30 Julie op Kwêla aangekondig. Dié dorp wen 'n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET.
Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal 'n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook 'n groot opskop in die wendorp gehou word met musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorpgees.
Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm en dit sal later die jaar uitgesaai word.
Lottoland het ook 'n verrassing vir die wendorp, wat later aangekondig sal word.
Dis maklik om deel te neem. Benoem jou gunstelingdorp - in dié geval Stilbaai - deur die woord Stilbaai te SMS na 33157 (dit kos R1.50 per SMS). Slegs 30 SMS'e word per nommer toegelaat.
Die stemmery sluit op Vrydag, 28 April om 12:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’