Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Die grootste armoede in die dorp heers in wyk 8 en dis ook hulle wat die swaarste getref word deur die inperking weens Covid-19.
"Die wyk is deur die 2011-sensus as die armste wyk in die munisipaliteit aangewys en die grootste uitdaging is om te verseker ons mense het nou kos," sê Chris Taute, wyksraadslid.
Die grootste uitdaging is inwoners wat weens die inperking sonder werk en 'n inkomste is. "Ek wil baie van ons werkgewers bedank omdat hulle mooi na hul werknemers omsien deur hulle te betaal terwyl hulle nie kan werk nie."
Volgens hom het hy R8 000 van die munisipaliteit ontvang om vir inwoners kos te koop. "Dit gaan 'n groot kopseer raak - daar is reeds ontevredenheid hieroor," sê hy. "Daarom deel ek alle inligting tot my beskikking en hoop dit sal van die vrae kan beantwoord."
Die idee van 'n sopkombuis is verwerp omdat dit daartoe sou lei dat baie mense op straat moet beweeg om die kos te gaan haal. Dit sou ook te duur raak om al die behoeftige inwoners op die manier kos te gee. "Ons het besluit om eerder kospakkies uit te deel met die innige hoop dat ons nog geld sal kry om honderde pakkies te kan versprei."
Met die geld is 22 kospakkies ter waarde van R350 elk gekoop. "André van Wyk van Riversdal SuperSpar het nog drie pakkies uit sy eie sak bygesit sodat ons nou 25 kospakkies het."
Die groot vraag is: "Hoe gaan ons 25 kospakkies tussen 1 600 huishoudings verdeel? Vir wie gee ons en vir wie nie? As iemand kan raadgee, sal ek dit baie waardeer."
'n Opname het bevind dat altesaam 450 huishoudings - wat agterplaashuishoudings insluit - se inkomste van nul tot R1 800 per maand is. In Aloeridge is daar byvoorbeeld 97 huishoudings wat altesaam 478 persone verteenwoordig.
Die kospakkies, wat deur nooddiens-personeel versprei sal word, sal gelykop in die drie woonbuurte Aloeridge, wat Beverly Hills insluit, Môrestond en Panorama, wat Melrose Place insluit, verdeel word.
"Ons versoek mense om geduldig te wees terwyl ons kyk waar ons nog geld vir kospakkies kan kry om meer mense te help."
Kyk 'n video hieronder
Taute doen ook 'n beroep op almal wat 'n Sassa-staatstoelaag ontvang om daarmee tevrede te wees: "Julle het immers kos in die huis. Ek pleit dat u liewer 'n ander huishouding wat sonder 'n inkomste is omdat die broodwinner nie kan werk nie, 'n kospakkie gun. Ons moenie nou selfsugtig wees nie, maar met mekaar deel."
Voorts gaan huishoudings slegs een keer 'n kospakkie ontvang sodat soveel as moontlik mense gehelp kan word - mits geld vir nog kospakkies ontvang word. Daar sal boekgehou word van wie reeds ontvang het.
"Ek hoop regtig almal verstaan waarmee ons worstel en vra almal se geduld, gebede en samewerking.
"Kom ons bly gehoorsaam as inwoners en doen wat die regering van ons verwag om te keer dat die virus versprei: Bly in die huis, was hande, en hou 'n afstand van 1,5m van mekaar.
Enigiemand wat kan hulp verleen kan Chris Taute kontak by 083 298 3349.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'