RIVERSDAL NUUS - Die brand wat Vrydag 12 Augustus net na middernag by Ou Meule-tehuis uitgebreek het, is waarskynlik deur 'n kortsluiting veroorsaak.
So sê die uitvoerende bestuurder van DROOM, Chris Veldsman.
Daar word 58 verswakte inwoners in die tehuis versorg. In dié tragiese voorval is die 81-jarige Japie van Rensburg oorlede en ses inwoners is in die hospitaal opgeneem, waarvan vier reeds ontslaan is.
"Die tehuis is dadelik ontruim en die res van die inwoners is na 'n saal verskuif, waar hulle tydelik versorg is," het Veldsman gesê. "Die ontruiming is vinnig en effektief met behulp van die brandweer en plaaslike gemeenskap uitgevoer. Dit het verdere sterftes en beserings van inwoners voorkom."
Die brand het in 'n kamer aan die weste-kant van die tehuis ontstaan. Drie kamers is erg beskadig, met rookskade verder in die gebou.
Die leefregwoonstelle wat op dieselfde gronde is, maar apart van die tehuis, is nie deur die brand geraak nie.
Die beheerraad van die tehuis het Saterdag vergader om verdere stappe vir die veiligheid en versorging van die inwoners te bespreek. Reëlings is met die diensverskaffer, wat etes aan die tehuis voorsien, getref om dit by 'n plaaslike skool voor te berei.
"Ons het Saterdagoggend die gedeelte wat gebrand het, toegemaak en die res van die tehuis is skoongemaak, alles is gewas en met lekkerruikmiddels gespuit om die rookreuk te verwyder," het Veldsman voorts gesê.
"Meeste van die inwoners is weer terug in die tehuis. Ons het 'n paar beddens in Jan Lange, DROOM se ander tehuis in die dorp, beskikbaar gehad en kon ons van die inwoners ook voorlopig daar huisves."
Volgens Veldsman het hulle reeds voor die ongelukkige voorval begin om die krag-sisteem na te gaan en brekers te vervang, omdat dit 'n ou gebou is.
"Ons word oorval met hulp, nie net deur die gemeenskap nie, maar ook besighede wat hul dienste aanbied soos om 'deep cleaning', herstel- en verfwerk te doen."
Die inwoners is so gou moontlik na 'n saal geneem waar daar na hulle omgesien is. Foto's verskaf
DROOM is 'n program van Badisa en ander Badisa-tehuise in die omliggende dorpe het hulp en ondersteuning verskaf deur die beskikbaarstelling van personeel en toerusting.
"Namens myself, die beheerraad en Badisa se bestuur wil ek ons innige meegevoel aan Japie se familie betuig," het Veldsman gesê. "Alle moontlike ondersteuning sal aan die familie gegee word."
Aangesien 'n nadoodse ondersoek eers uitgevoer moet word, kon geen begrafnisreëlings nog getref word nie.
Een van die drie kamers wat heeltemal in die brand verwoes is.
Vorige artikel: 10 bejaardes beseer na brand by tehuis
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'