STILBAAI NUUS - Vrye Weekblad se tweede boekefees het verskeie bekende mediapersoonlikhede gespekke gelei.
Vrydagaand was dit die beurt van Max du Preez, dr. Piet Croucamp, Annaliese Burgess en Anastasia de Vries om te worstel met die vraag:
Hoe oorleef ons SA se donker uur? Niël Rademan se musiek voor die sessie het darem gesorg dat die gehoor opgeruimd en vrolik was teen die tyd wat die harde werklikhede ontleed is.
Max het begin deur te sê dat presies 'n jaar gelede het hy daar gesit en gesê dat Rusland die Oekraïne binnegeval het en hy veroordeel SA se toegeneentheid jeens Rusland. Piet Croucamp sê dat SA se posisie gekompliseerd is en dat daar gekyk moet word na die verlede.
Die vraag is: As Eskom vir ons krag gegee het, sou ons nog so negatief gewees het?
Anastasia sê die gewone werkersklas met wie sy in aanraking kom in die Kaap en wat swaargekry het onder die vorige bedeling, kry nog steeds swaar. Die regering skep die gevoel dat hulle onaantasbaar is en dit maak die mense seer. Iets wat haar egter opgewonde maak, is die studente in haar klasse wat deur al hierdie swartgalligheid nog steeds planne maak om beurtkrag te fnuik.
Anneliese het 'n onderhoud met André de Ruyter, gewese Eskom-grootbaas, gevoer nege maande ná sy aanstelling by dié nutsmaatskappy. Haar vraag aan hom was hoekom hy hierdie gifbotteltjie gevat het? Hy was opgeruimd en vol entoesiasme en hy het haar selfs geïnspireer om te glo hy kan dit regkry.
Max het gevra of Eskom die enigste probleem is? Almal was dit eens dat misdaad en korrupsie die ander groot sondebokke is en sou dit hokgeslaan word sal heelwat minder mense emigreer.
Terwyl almal daarop hamer dat die burgerlike samelewing nie apaties moet staan nie, want hulle optrede kan SA weer 'n plek maak waar almal wil bly, sê Anastasia dat hoop is nie 'n ding daar ver nie. Hoop is vuil hande en gebreekte naels.
Uiteindelik was dit Max se beurt om Jacques Pauw (Our Poisoned Land) en Pieter du Toit (ANC Billionaires) saam op die verhoog te kry. Die Baptiste-kerksaal was gepak. Mense het selfs gestaan en jy kon die afwagting voel.
Max het begin deur te sê dat onder-soekende joernalistiek 'n groot bate is. Volgens hom tel Jacques Pauw en Pieter du Toit onder die bestes ter wêreld. Albei hierdie joernaliste kon ook daarin slaag om hulle ondersoeke in boeke te omskep.
Die gesprek het begin toe Max sê hy sal die positiewe noem en dit is dat die burgerlike samelewing in SA besig is om terug te veg. "Om te veg wat vir hulle belangrik en noodsaaklik is."
Almal is dit eens dat korrupsie en misdaad hoogty vier. Ongelukkig stel die president die ANC se welvaart voorop en dit ten koste van die land en sy mense. In 'n sekere mate is die polisie nog swakker as in die Zuma-jare. SA lê 19de uit 183 lande vir die meeste georganiseerde misdaad. As dinge nie drasties begin verbeter in die volgende twee jaar nie, word hierdie land 'n mafiastaat met kriminele elemente in die regering.
Pieter du Toit, assistent-redakteur van News24, sê Eskom is van heel bo tot onder deurtrek van korrupsie. Dit is byvoorbeeld niks snaaks dat Eskom in Megawatt Park melk aankoop teen vyftig rand 'n liter nie. Die steenkoolmafia laai trokke vol steenkool waar net die boonste laag steenkool is. Die res is klippe. Dit word afgelaai by kragstasies wat die steenkoolbrekers verniel.
Teen einde 2019 het Jan Oberholzer, 'n senior lid van Eskom, die regering in 'n vergadering ingelig wat aangaan. Daar is nog niks daaraan gedoen nie.
Die paneel is dit eens dat indien die ANC so sleg verloor in volgende jaar se verkiesing dat nie eers die EFF hulle kan help nie, wag daar 'n paar baie onstabiele jare op hierdie land. Dit is baie moeilik om 'n goeie demokraat te wees as jy die verkiesing verloor en dan is geweld die oplossing.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'