HESSEQUA NUUS - Alle suiwelprodusente word genooi om vir die 2020 Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap in te skryf.
Die sluitingsdatum is 6 Februarie.
Die land se grootste, oudste en mees gesogte suiwelgebeurtenis wat sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied word, lok jaarliks sowat 900 inskrywings van groot, medium en klein produsente.
Hierdie suiwelprodukte kompeteer om die gerekende titels van SA Kampioen, die Qualité-merk van gehalte en uiteindelik die Produk van die Jaar. Die toekennings word tydens die glansryke Agri-Expo Qualité-dinee by GrandWest in Kaapstad aangewys.
Volgens Alan Fourie, hoofbeoordelaar, is die uitsluitlike doel van die kampioenskap om uitnemendheid in die suiwelbedryf te erken en te bevorder.
"Dié kampioenskap is een van die enigste kompetisies ter wêreld wat vyf beoordelaars in elke kategorie het. Dit het die maatstaf geword waarvolgens produsente hulself teen mekaar meet," sê hy.
Die kampioenskap bestaan uit meer as 100 klasse vir kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander produkte. Die wenners word in al die onderskeie klasse as Suid-Afrikaanse kampioene bekroon. Produkte van besonders hoë gehalte ontvang die Qualité-merk wat deur die bedryf as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in die land erken word.
Ná die eerste rondte beoordeling deur meer as 70 beoordelaars wys 'n paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan. Die kampioenskap en Qualité-toekennings word in samewerking met die platinumvennoot Synercore en ander vennote moontlik gemaak.
Enige suiwelprodusent wie se produkte in die handel beskikbaar is, mag inskryf.
Aanlyninskrywings vir vanjaar se kampioenskappe het op Maandag 6 Januarie geopen. Die beoordeling vind op Donderdag 27 Februarie 2020 plaas, terwyl die Agri-Expo Qualité-dinee op Vrydag 27 Maart plaasvind.
Vir meer inligting, besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za of skryf aanlyn in op die webwerf www.cheesesa.co.za
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'