Gallery
HESSEQUA NUUS - Drie wonings wat in drie dorpe in die streek binne 'n kwessie van 10 dae afgebrand het, is rede tot kommer.
In twee gevalle het die bewoners blykbaar geen idee wat die brande kon veroorsaak het nie.
Slegs verbrande sinkplate, 'n paar swart ysterpale en as is al wat oor is nadat 'n informele struktuur op Riversdal, in die uitbreiding Môrestond afgebrand het. Die huis, geleë in Maanligstraat 197, asook die bewoner, Charlie Delo se besittings, is Maandag 8 April, omstreeks 20:35 totaal en al verwoes. Volgens Delo beskik die huis oor geen elektrisiteit nie en was hy in die hoofhuis besig om koffie te maak. Met sy terugkeer na die struktuur het hy opgemerk dat dit brand.
Die vinnige optrede van die plaaslike brandweer het voorkom dat die vuur nie na die hoofhuis versprei nie. Delo besit nou slegs die klere as sy lyf en vra hy die hulp van die gemeenskap vir enige vorm van hulp, hetsy boumateriaal, klere of beddegoed. Die oorsaak van die brand is nog onbekend. - Keith Eksteen, korrespondent
• 'n Brand wat ook blykbaar onverklaarbaar in hul huis ontstaan het, het Bettie Gelderbloem (62) en haar saamleefman, John Lepo (67) van al hul besittings ontneem.
Die voorval het Maandag 1 April, ongeveer 12:00 plaasgevind terwyl Gelderbloem buite hul huis in Goliath Davidstraat op Heidelberg, in die uitbreiding Diepkloof gesit het en Lepo was in die dorp. Gelderbloem is die ma van wyk 5 se raadslid, James, wat op die toneel was en moes toekyk terwyl die vuur voortwoed.
Hoewel die bure en plaaslike brandweer alles hul vermoë gedoen het om die vuur te blus, was dit tevergeefs.
Buiten hul klere en meubels, het hulle ook al hul dokumente verloor. Net die stoof en 'n rusbank kon gered word.
'n Beroep word gedoen vir enige hulp om die familie by te staan. James Gelderbloem kan by 063 168 7438 geskakel word.
• Die derde brand was in Esaustraat, Slangrivier. Die eienaar, Jan Michaels het Dinsdag omstreeks 17:00 vuur gemaak. Hy het nog hout gaan soek en met sy terugkeer het hy gesien die huis brand. Hy het alleen gewoon. Die plaaslike brandweer was gou op die toneel en het die vuur onder beheer gebring voor dit kon versprei, maar niks kon gered word nie.
Die swartgebrande sinkplate is die enigste getuienis van die erge brand wat hier gewoed het. Foto: Keith Eksteen, korrespondent
John Lepo en Bettie Gelderbloem. Foto’s: Clive Pretorius, korrespondent
Buiten dat alles feitlik binne verbrand het, is groot skade aan die struktuur aangerig.
Lees 'n verwante artikel hier: Groot skade na brand
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'