Update
SUID-KAAP NUUS - Twee knap polisielede het pas spesiale erkenning vir uitmuntende diens ontvang.
Sers. J M Spangenberg van die K9-eenheid op Mosselbaai en konst. Christiaan Zwiegelaar van Stilbaai-polisie is deur die nasionale polisiekommissaris met toekennings vir uitstaande dienslewering aan die gemeenskap beloon.
Die toekennings is op Donderdag 14 November deur brig. Gerhard Jantjies, Da Gamaskop-groepshoof aan hulle oorhandig.
Spangenberg (35) se toekenning hou verband met 'n voorval op 18 Januarie 2018 op die N2 tussen George en Mosselbaai. Hy en Zwiegelaar was van George na Mosselbaai op pad toe hulle sien hoe 'n vrou uit 'n bewegende VW Golf-voertuig spring.
Spangenberg, wat van diens was, het Zwiegelaar versoek om stil te hou. Hy het die beseerde vrou te hulp gesnel. Skielik het die motoris in die Golf op hulle afgepyl.
Hy het haar voor die voertuig weggeraap. Die motoris het weer omgedraai, maar het in die gras langs die N2 vasgeval.
Spangenberg het Zwiegelaar se dienspistool gevra en die tweede passasier uit die voertuig gered.
Die motoris het weggejaag. Hy is later by die Shell-diensstasie op aanklagte van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem. "'n Mens moet bereid wees om 'n verskil in die samelewing te maak," sê Spangenberg.
Zwiegelaar (25) het erkenning gekry vir uitsonderlike ondersoekwerk wat daartoe gelei het dat verskeie dwelmsmokkelaars stewige vonnisse van tussen 12 en 23 jaar opgelê is. "Ek wil nie eintlik uitwei oor die voorvalle nie, want ek weet nie presies watter die erkenning na my kant toe laat kom het nie."
Lees 'n vorige artikel: Polisielede vereer vir knap diens
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'