Update
HESSEQUA NUUS - Klimaat gaan bepalend wees vir inwoners van die Suid-Kaap.
“Inwoners en owerhede in die Suid-Kaap krap steeds kop oor hoe om ten beste voor te berei vir ’n onseker klimaat waar blootstelling aan gereelde en ernstige brande ’n ooglopende gevaar inhou en waterskaarste en droogte reeds ’n werklikheid is,” sê Cobus Meiring van die Suid-Kaap Grondeienaarsinisiatief (SCLI).
“Ons vermoë om by veranderende klimaatsomstandighede aan te pas en ons vermoë om ons omgewing in ooreenstemming te bestuur, gaan bepalend vir ons toekoms wees.”
Hy meen baie meer klem moet gelê word op hoe waterhulpbronne bestuur en aangewend en hoe berg-opvanggebiede bewaar word. In ander wêrelddele manifesteer klimaatsverandering in oorstromings, soos met die tropiese sikloon, Idai, wat onlangs verwoesting in Beira in Mosambiek gesaai het. Terselfdertyd het bykans ’n miljoen hektaar landbougrond in Amerika se midweste oorstroom.
“Hoewel daar wêreldwyd diegene is wat steeds nie die voorkoms van klimaatsverandering wil erken nie, en talle ander steeds stry oor wat en wie dit veroorsaak het, is klimaatsverandering ’n werklikheid wat daadwerklike bestuur en aandag verg,” sê hy.
“Wat ons wel weet is dat die Suid-Kaap nie ’n verandering in klimaat gaan vryspring nie. Onlangse vernietigende brande en die voortslepende droogte in die Klein en Groot Karoo is reeds duidelike aanwysers dat dinge nie pluis is nie,” sê Meiring. Dit is ook bekend dat oormatige onttrekking van ondergrondse water vir landboudoeleindes ’n negatiewe invloed op watertafels in die Suid-Kaap het, want sonder reën word dié water nie aangevul nie.
“Die beskikbaarheid van water word verder benadeel deur ongewenste plantegroei in bergagtige opvanggebiede. Wattelbome wat rivierstelsels toegroei veroorsaak dat hoë volumes water verlore gaan en rivierlope degradeer tot op hul klipbeddings. Palmietfilters en vleilande word in die proses vernietig,” sê Meiring.
SCLI, in samewerking met die Tafelbergfonds (Table Mountain Fund), wil grondeienaars en owerhede in die Suid-Kaap aanmoedig om hul eiendomme optimaal te bestuur en veral ekologies-sensitiewe gebiede en rivierlope vry te hou van indingerplante.
Vir meer inligting besoek die SCLI-webwerf by www.scli.org.za
Lees 'n vorige artikel hier: Suid-Kaap gaan nie klimaatsverandering vryspring nie
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'