RIVERSDAL NUUS - Die vierjarige kleuter wat op 14 Augustus in Heidestraat voor 'n plaaslike kleuterskool beseer is, is buite gevaar, maar nog glad nie gesond nie.
Na Suid-Kaap Forum verneem het dat 'n kleuter tussen twee voertuie in die straat voor Ienkel Dienkel vasgedruk en ernstig beseer is, het die koerant dadelik 'n navraag aan die plaaslike polisiekantoor gerig. Herhaaldelike telefoniese navrae, asook per e-pos op 27 Augustus het daarna gevolg, sonder enige sukses. Eers op Maandag 9 September is inligting baie kortliks per WhatsApp aan die koerant gestuur.
Volgens die mediaskakelpersoon, konst. Venia Daries, het die bestuurder van 'n silwer Toyota Hilux-bakkie met 'n swart Volkswagen Polo, wat in die pad voor die kleuterskool geparkeer was, op Woensdag 14 Augustus omtrent 12:05 gebots.
"Die dogter van die persoon wat die Polo bestuur het, het interne (inwendige) beserings opgedoen. 'n Saak van roekelose of nalatige bestuur word ondersoek. Geen name mag bekend gemaak word nie."
Volgens haar pa is van haar ribbes gebreek toe sy tussen die twee voertuie vasgedruk is. "Ons weet nie of dit die gaatjie in haar long veroorsaak het nie, maar die besering was ernstig en sy is in die hospitaal opgeneem."
Volgens hom is die ander long nie so erg beseer nie, maar daar het kommer geheers oor moontlike ander inwendige beserings. Verder het sy kneusplekke opgedoen.
"Sy het nou 'n sielkundige probleem - sy is bang om in 'n motor te ry en is vreesbevange wanneer 'n motor agteruit ry of wanneer daar 'n klomp motors bymekaar staan."
Sy sal na 'n kindersielkundige verwys word en kan hopelik na die skoolvakansie na die skool terugkeer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'