Video
HEIDELBERG NUUS - Die Kleine Pikkewyne-kleuterskool staan kleurvol in die Oos-dorp uit en gee die gemeenskap sommer weer nuwe moed vir die toekoms.
Die amper 80-jarige skoolhoof, Shirley Swartbooi, het op 60 graad gekry en met haar pensioengeld 'n speelskool by haar huis begin.
"Ek wou graag 'n verskil maak onder die mindergegoede mense van die dorp." Die skool het later na 'n groter perseel geskuif.
Volgens Louise Kluyts, bekende kunstenaar van die dorp, is Swartbooi 'n ongelooflike mens "en dis hoekom ek gaan verf het."
Lazanne Thiart het nie op haar laat wag nie. Sy het verf geskenk en saam met Mercia Liebenberg en Castity Swartbooi hand bygesit om die skool te help verf.
Die skool is deur Annelene Hartnick genomineer om op Kleuterzone televisieprogram te verskyn.
Die televisiespan het op Woensdag 6 September besoek afgelê en die mure was betyds klaar om by hierdie geleentheid te spog.
Die skool is so geverf dat dit uit verskeie hoeke mooi vertoon.
Dit is dan ook 'n hoogtepunt in Swartbooi se lewe, want sy tree die einde van die jaar af.
"Ek wou die skool vreeslik graag mooi en goed versorg afgee."
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n vorige artikel: Kleine Pikkewyne kry groot geskenk
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'