HEIDELBERG NUUS - Die kleuters van Kleine Pikkewyne-kleuterskool het nie op hulle laat wag toe hulle die kans gegun is om hul talente voor die televisiekameras ten toon te stel nie.
Die bekende kykNET program, Kleuterzone het die skool besoek om 'n program op te neem wat oor drie maande uitgesaai word.
Volgens Shirley Swartbooi, prinsipaal en stigter van die skool, was sy en haar personeel baie in hul skik toe hulle verneem dat die programaanbieders belangstel om hulle te besoek.
Sy het Annelene Hartnick, oudonderwyser en voormalige raadslid geloof vir die inisiatief wat sy geneem het om die blootstelling vir hulle moontlik te maak.
Die oggend tydens die besoek aan die skool het die kleuters reeds aan Renschea Bougas, programvervaardiger en haar span gewys dat hulle nie een tree vir hul dorp se groot televisiesterre, Christo Davids, Maurice Paige en Theodore Jantjies terug staan nie.
Bougas was baie beïndruk met hulle ywer en vernuf die oggend, sodat sy met groot verwagting na die konsertvertoning die aand in die Duivenhoks-gemeenskapsaal uitgesien het.
Die kleuters het nie net vir Bougas en haar span met hul uitsonderlike talent in verskeie items meegevoer nie, maar ook hul ouers en ondersteuners.
Hulle is na afloop van die konsert met 'n staande ovasie deur die waarderende gehoor toegejuig.
Caleb Noudt, wat sy vyfde verjaarsdag gevier het, het 'n 'Ek was op TV'-pet van Bougas as geskenk ontvang.
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'