Update
RIVERSDAL NUUS - Kindersorg SA het van 18 tot 21 Junie 'n suksesvolle vakansieprogram vir sowat 200 kinders aangebied.
Die vakansieprogram is by Kindersorg se kantoor in Beverley Hills-singel aangebied en kinders van tussen vier en 17 jaar oud uit die woonbuurte Melrose Place, Môrestond, Beverley Hills en Aloeridge het deelgeneem.
"Kindersorg SA, 'n organisasie sonder winsbejag, bied elke skoolvakansie 'n program aan om te voorkom dat kinders in die strate rondloop en by kriminele misdrywe betrokke raak," sê Shahida Filander.
Tydens die week is daar gepoog om die kinders meer lewensvaardighede te leer, leierskapeienskappe te ontwikkel en hulle in te lig oor die euwels in die samelewing. Verskeie rolmodelle het die kinders meer oor hul eie lewens vertel en deurentyd die belangrikheid van skoolgaan benadruk. Op die eerste dag het 19 kinders tussen 5 en 13 jaar die plaaslike biblioteek besoek waar hulle kunsvlyt gedoen het. Die groep is vergesel deur Magda Kamfer, maatskaplike hulpwerker, wat die week fasiliteer het, en Eben Januarie, assistent by Kindersorg se Sustainable Livelihoods-program. Melony Cloete, die biblioteek se skakelpersoon, het vir die kinders 'n storie voorgelees en verduidelik hoekom boeke en lees belangrik is.
Later die week het Caville Abrahams van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) vir die kinders vertel hoekom hy 'n menseredder geword en by die organisasie betrokke geraak het.
Die Werk vir Vuur-span het ook met die kinders gesels en hulle aangemoedig om brandbestryders te word. Die kinders het geleer hoe om as 'n span saam te werk en wat dit beteken om onder leierskap te staan.
Reginald Baker van Panorama Primêr het op sy beurt vir hulle vertel hoekom hy 'n onderwyser geword het. Hy het hulle ook aangemoedig om skool te gaan en hul drome na te jaag. Onder leiding van Esmeralda Pedro en Danville Plaatjies, het die MOD-program aangebied. MOD staan vir Mass Participation and Access Development and Growth en die program bevorder lewensvaardighede en sportontwikkeling deur massadeelname. Die speletjies waaraan die kinders deelgeneem het, het gedien as spanbou-aktiwiteit, maar het ook fiksheid ten doel. Die kinders het elke dag 'n bord kos ontvang wat deels deur MOD geskenk is. Hulle het ook 'n inheemse rooipeerboom op Kindersorg se terrein geplant.
Lede van Werk vir Vuur leer die kinders speel-speel om nie met vuur te speel nie.
Melony Cloete van die Riversdal-biblioteek help die kinders met kunsvlyt.
Lees 'n vorige artikel hier: Kindersorg SA hou jonges besig
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'