13 Fietsryers, wat deel is van die Xtreme for Kids fietsrygroep in Gauteng en waarvan slegs een 'n vrou is, het op 27 Februarie uit Johannesburg vertrek en by verskillende geïdentifiseerde skole op die roete aangedoen, wat skole in Kroonstad, Middelburg (Kaap), Aberdeen, George, Riversdal, Robertson en Durbanville ingesluit het.
Panorama Primêr in Riversdal was een van die agt skole en het Donderdag, 6 Maart besoek van hierdie groep ontvang, waartydens 'n uitdaging aan die kinders gestel was om 'n held te wees en verkragting en enige ander seksuele misdrywe aan te meld. Elke kind het 'n 'Survivor Guide' ontvang, 'n boekie met waardevolle inligting wat spesifiek op kinders gerig is wat nie toegang tot hulp en terapie het nie. Die SAPD se Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele misdrywe-eenheid (GKS) het dan ook kortliks 'n praatjie oor dié onderwerp gelewer.
Die hoogtepunt van elke skoolbesoek, ook by Panorama, was die trekking van die naam van een gelukkige kind wat 'n fiets kon wen, geborg deur Exxaro wat ook die hoofborg van die toer was. 'n Graad 7-leerder, Heinrich Solomon, was die gelukkige een by dié skool en het ook daar en dan 'n belofte afgelê dat hy nooit (weer) ander kinders sal boelie nie.
Die doel van die projek
Daar word beraam dat daar elke drie minute 'n kind verkrag word (Solidariteit navorsingsverslag 2009). Die meeste van hulle is jong meisies tussen 8- en 12-jarige ouderdom en word gewoonlik verkrag deur iemand wat hulle ken, soos 'n pa, broer of oom. Die fokus van hierdie liefdadigheid is om kinders aan te spoor om met iemand te praat wanneer hierdie misdade teen hul gepleeg word en om hulp te verleen. Die fondse wat deur die fietsryers ingesamel word, word gebruik om nuwe Matla A Bana fasiliteite te open - en het hulle dan ook die eerste fasiliteit van dié aard op die Tuinroete in Mosselbaai bygewoon op 5 Maart. "Ons hoop om kinders en jongmense te inspireer om nie net 'n gesonde leefstyl te handhaaf deur sport te beoefen nie, maar ook gesonde oortuigings te laat groei deur nie vroue en jong meisies te misbruik nie," het die toerbestuurder, Dirk Lourens, gesê.
Die groep het die toer geëindig met deelname aan die Cape Argus en André van Bavel het 'n 11de plek in die tandem afdeling behaal. Die Xtreme toer word bestuur deur Matla A Bana, wat begin is deur 'n gyselaar van 14 jaar gelede, Monique Strydom.
Van links is kapt. J. Appels, a.o. G. Swanepoel, mnr. J. Fielies (skoolhoof), kapt. A. Moolman (be-velvoerder, GKS Da Gamaskop), sers. S. van Zyl en kapt. Hewu.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'