Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Sowat 60 kinders van kleuters tot matrieks het Maandag 17 Junie aan 'n Jeugdagviering in die Thusong-sentrum deelgeneem.
"Jeugdag is 'n dag waartydens die jeug hul stem moet dik maak en sê hulle het ook 'n plek in die samelewing."
So sê Teslene Esau, leier van die verteenwoordigende raad van leerders (VRL) van Gerrit du Plessis Senior Sekondêr, en hoofspreker by die Jeugdag. "Of hul regte ontneem word, hang af van wat in hul huise gebeur. As daar nie reëls en riglyne in 'n huishouding is nie, kan hulle blootgestel word aan uitbuiting en kan hulle nie hul volle potensiaal bereik nie."
Die dag is gesamentlik deur die polisie en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) aangebied. "Die doel is om die jeug bewus te maak van die gevare, soos dwelmmisbruik, wat die wêreld daarbuite inhou," sê konst. Venia Daries, Riversdal-polisie se skakelpersoon. "Ons wil die kinders met kennis bemagtig sodat hulle in die toekoms beter keuses kan maak."
Beth Paine, voorsitter van Riversdal GPF sluit daarby aan: "Ons wil met die video's vir die jong kind en tiener wys wat in huishoudings verkeerd kan loop, en hoe hulle daardie werklikhede kan hanteer. Ons wil hulle ook wys hoe om groepsdruk te hanteer omdat hulle maklik as gevolg daarvan in 'n strik kan trap en deur misdaad ingesluk kan word."
Al die skole in die dorp is genooi. Teslene en Edwin Herdien (17), onderleier van die VRL was onder die lede van die polisie se jeugkomitee, wat dien as skakel tussen die skole en die polisie. Ander kinders het lede van verskillende jeug- en kerkgroepe ingesluit.
Kyk 'n video hieronder:
Die seniors het na die rolprent van Ellen Pakkies se verhaal gekyk, terwyl die kleintjies buite besig gehou is. Na 'n vullende maaltyd het al die kinders by Riverville-sportterrein speletjies gespeel, voor hulle omstreeks 15:00 huis toe is met 'n pakkie lekkernye en vrugte.
Die ete is voorberei deur Anette Oosthuizen, wat al langer as 13 jaar by jeugwerk by die AGS-kerk betrokke is, en Lillian Burke, voorsitter van Riversdal KANSA, wat ook by die traumakamer by die polisiekantoor betrokke is.
Daries het al die borge wat die dag en eetgoed moontlik gemaak het, hartlik bedank.
Lees 'n vorige artikel hier: Jeug moet stemme dik maak, sê tiener
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'