RIVERSDAL NUUS – Altesaam 31 leerders van ses skole en tuisonderrigstudente in die Hessequa-streek het hul erfenis op uitnodiging van die Julius Gordon Africana-sentrum (Versfeld-huis) geteken.
Dié projek, ter viering van Erfenisdag, wat op 24 September gevier is, is deur Louise Du Plessis, die museumkurator, gelei.
Danksy die borge, Carmia-rekenmeesters, SuperSpar en Medi-Dal-apteek, is R3 000 ingesamel en al die deelnemers is met 'n geldprys beloon.
Die opdrag was bloot: teken 'n erfenisgebou in die streek – sónder 'n liniaal, met nét 'n HB-potlood op 'n wit A4-bladsy.
Die skole wat deelgeneem het, is Panorama Primêr, Laerskool Volschenk, Voorwaarts Primêr, Hoërskool Gerrit du Plessis, Hoërskool Langenhoven en Hoërskool Heidelberg.
Du Plessis meen: “Omdat kuns by die meeste skole nie meer as 'n vak aangebied word nie, word talle toekomstige kunstenaars se talent nie geëien en geslyp nie. Daarom is dit belangrik dat soortgelyke projekte deurgaans aangebied word om kreatiwiteit te bevorder en om daardeur die moraal van 'n gemeenskap op te hef.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’