Update
RIVERSDAL NUUS - Die Kersfeeskore-kompetisie is reeds in 1986 gestig en word elke jaar op 'n ander dorp aangebied. Vanjaar was dit op Riversdal.
Kore het opgetof en netjies op Sondag 21 Januarie by Riverville-stadion bymekaar gekom.
Vanjaar het agt kore meegeding waaronder volwassenes en kinders uit die gemeenskap deel van dié kore was.
Die kore is deur die lid van die provinsiale parlement, Dennis Joseph, verwelkom. Hy het ook genoem dat Kersfeeskore uniek aan die Wes-Kaap is.
Die voorsitter, Davin Hull, het gesê dat hy veral die jongmense wil aanmoedig om by kore aan te sluit.
"Daar is geen beperkings op ouderdom nie en ons wil graag hê dat dit moet voortleef. As die jonger geslag nie meer betrokke gaan raak nie is ek bevrees dat dit gaan uitsterf."
Volgens Hull moet veral leerders wat nie na matriek gaan studeer nie aansluit.
"Dit leer jou dissipline en gee jou selfrespek. Wanneer jy as jongmens gedissiplineer word, het jy 'n gedissiplineerde volwassene. "
Die kore wat vanjaar deelgeneem het was: Royal Crusaders - Riversdal, Bonnie Crusaders - Bonnievale, Uni Stars - McGregor, New Born Stars - Slangrivier, Young Royal Crusaders - Barrydale, Young Christians - Suurbraak, Star of Bethlehem – Groot-Brakrivier en St. Moses - Zoar.
Jonk en oud het deelgeneem. Hier is van die jonger lede van New Born Stars - Slangrivier. Van links: Thelma Pretorius, Jo-Keathan Hartnick en Abigail Boezak.
Elke koor moes dieselfde sololied blaas waarop hulle beoordeel word. Hulle word ook op die groot mars, draaie, inkom, gelit, netheid en kleredrag beoordeel.
Die mans se baarde moet selfs netjies geskeer wees.
Volgens Hull ontvang Kersfeeskore geen finansiering van die staat nie en diegene wat sou belangstel om betrokke te raak of skenkings wil maak kan 'n e-pos stuur na davinhll8@gmail.com.
Nicalou Juta het seker gemaak dat sy koorlede se skoene blink. Hier poets hy Sheldon Jacobs se skoene. Hulle is van Royal Crusaders - Riversdal.
Lees 'n vorige artikel: Kersfeeskore ding mee
ARTIKEL & FOTOS: SAN-MARIÉ CRONJÉ - SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'